Gansbaai Wynproegilde se Erhardt Roothman, voorheen ‘n professionele kundige te Jonkheer Wynkelder, maar tans ‘n gewaardeerde lid van die klub, was verantwoordelik vir ‘n puik wynproe-aand in die Great White House, Kleinbaai.
Voorsitter Theuns Roodman het die verwelkoming hanteer en vir Erhardt aan die woord gestel. Die wyne van Beaumont Wynkelder wat hy op sy unieke manier te proe aangebied het, is Beaumont se Chenin Blanc (2015), Hope Marguerite (Chenin Blanc - 2014), Pinotage (2013), Shiraz/Mourvédre (2012), Petit Verdot (2013) en Goutte D’Or (Chenin Blanc NLH - 2014). Die lede en gaste was beïndruk en die puntetoekennings het daarvan getuig.
Beaumont is ‘n familie-wynkelder in die hartjie van Botrivier, oorspronklik bekend as “Botter Rivier”. Na afloop van die oorhandiging en ‘n smaaklike ete tussen die wynproeëry deur, het Anne-Maré de Witt die gebruiklike blyk van waardering aan Erhardt oorhandig - ‘n Gansbaai Wynproegilde Voorskot, wat nou sommer ‘n volwaardige klublid van Erhardt maak.
Gansbaai Wynproegilde is op Dinsdag, 11 November 2008, sowat 7 jaar gelede deur wyle Helmie de Vries in Franskraal gestig. Helmie was die voormalige Algemene Bestuurder van die familie-wynkelder, Koelenhof Wynkelder naby Stellenbosch, waar hy gebore en getoeë is. Na afloop van Gansbaai Wynproegilde se jaarafsluiting op 3 Desember 2015 sal die klublede ook tot ruste kom vir die Kersseisoen, maar sekerlik nie die matige gebruik van goeie plaaslike wyne nie.
Vir navrae rakende Gansbaai Wynproegilde kan Amanda de Vries by 028-388-0708 of 082-577-6920 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan haar by info@franskraalbandb.co.za.
Hardus Botha