Soms voel dit asof 10 jaar vinnig verbygevlieg het, maar om vir 10 jaar onder aanvanklike moeilike omstandighede uit te hou en eenvoudig aan te hou en suksesvol aan die anderkant uit te stap, verg harde werk en vele opofferinge - en ondersteunende vriende. So is dit met Nicolette Bosch, tevrede eienaar van Gansbaai Book Exchange.
“Vandag, presies 10 jaar gelede op 5 Desember 2005, het hierdie winkel sy deure oopgemaak en kom ek vertel julle nou iets….die winkel is eintlik uit nood gebore,” het Nicolette op haar kenmerkende manier van “vertel julle iets” gesê. Sy het interessante agtergrond verskaf oor die rede vir die ontstaan van haar vandag suksesvolle winkel en hoe sy met vriende se ondersteuning met ‘n tweedehandse boekwinkel met ‘n “1,000” vrae begin het. “Deurgaans met al die besluite wat ek moes neem, was my riglyn Jesaja 53 en my vertroue in my Hemelse Vader vir sy krag en leiding en met dit as basis is Gansbaai Book Exchange gebore,” het sy gesê.
Die geleentheid was ‘n geselligheid wat vir sowat 80 vriende en ondersteuners, haar “hartsvriende”, gereël is. “Op 5 Desember 2005 het ek die winkel met 3,100 boeke oopgemaak en dit is met groot dankbaarheid wat ek kan sê hier is vandag 50,000+ boeke op die rakke,” het Nicolette gesê. Sy het sowat 4 jaar gelede in die bestaande winkel in die Great White Sentrum langs Gansbaai Toerisme ingetrek.
Nicolette se dogter en regterhand, Elzanne Bosch, het die heildronk op haar ma ingestel en daar is tot laataand gesellig saamgekuier. “Oor so ‘n lang tydperk is daar te veel van my ‘hartsvriende’ om uit te sonder. Elkeen weet wat hy of sy vir my beteken het, daarom sê ek baie, baie dankie aan almal van julle!”
Hardus Botha