En alles wat gevleuel is

En alles wat gevleuel is

Gansbaai Courant

Sjoe, dis koud vanaand, dink Uil as hy onder die beskutting van die klipdak invlieg. Gelukkig is daar baie houtbalke en houtstellasies waarop hy kan gaan sit. Ver agter in ‘n donker hoek groet ‘n ander uil en hy antwoord binnesmonds: “Hhmm Hoee.” Uil skud sy lyf om die water van die misreëntjie buite uit sy vere te kry. Hy is nou honger en sy groot oë rol venynig op die vloer rond. Daar is vars strooi op die grond uitgegooi, maar dit is reeds plek-plek oopgetrap deur die melkbok, die skape met hulle lammers, die melkkoei met haar kalf en die twee donkies. Teen die mure hang tuie, rieme en leisels, verweerd en gelas, maar seker nog in werkende toestand. 

Die diere het reeds vroeër die voer in die krip geëet en staan nou half slaperig en herkou. Daar! daar sien hy hom! ‘n Lekker vet rot vreet sy laaste avondmaal voordat die uil se kloue hom opraap. Aan die oorkant klap die ander uil sy vlerke  uit pure frustrasie, want hy het dieselfde happie in die oog gehad.  Hy is al heeldag geïrriteerd, want daar is iets in die lug wat hy nie kan peil nie. En ‘n uil moet weet; ‘n uil is die slimste van die diere, maar hy weet nie en dit pla hom. Dan moet hy nog in ‘n plek oornag wat stink van al die mis op die grond. Die dikgevrete uil doer oorkant, dra ook nie by tot sy geesteswelstand nie. Sy onrustigheid groei by die sekonde. Opeens hoor hy stemme buite. Die herbergier lei ‘n donkie onder die dak in. ‘n Vrou sit inmekaargevou bo-op die donkie terwyl ‘n man langsaan loop en haar probeer gerusstel. Die herbergier stoot ‘n klomp strooi op ‘n hoop in die een hoek van die stal en gooi ‘n gestreepte kombers bo-oor. Dan  trek hy die los krippie waarby die lammers geëet het, ook nader, maak dit vol strooi en sit ‘n paar wit linnelappe binne-in. 

Beide die uile sit hierdie toneeltjie met skewe koppe en aankyk. Die man het die vrou nou afgehelp van die donkie se rug af. Sy kreun en huil en hou haar maag vas. Skielik skreeu sy van pyn. Die herbergier hardloop na buite en minute later kom sy vrou binne met ‘n waterkruik en erdeskottel in haar arms. Die onrustige uil fladder sy vlerke, maar niemand neem van hom notisie nie. Deur die klein vensteropeninkie kom ‘n flou lig te voorskyn. Dit skyn al helderder en skuif geheimsinnig oor die donker vloer totdat dit tot stilstand kom reg bokant die man en vrou en die krip. Selfs toe die bang uil bo-oor hulle swiep om styf langs die ander uil te gaan sit, kyk hulle nie eens op nie. “Wat gaan aan....wat gaan aan?” vra die verskrikte uil vir die ander een. “Dit is niks om voor bang te wees nie. Dit is die koms van die groot Koning wat ons nou gaan aanskou. “Ko..ning, kooo..ning? 

Leeu is mos koning en Herodes is koning, wat praat jy van nog ‘n koning?” Uil  grim en plaas een vlerk rondom sy ongelowige maat. “Luister, luister mooi” sê hy. Veraf hoor hulle iets wat klink soos ‘n gesuis uit die lug, maar soos dit naderkom, hoor hulle die mooiste stemme wat sing “Ere aan God in die hoogste hemele.” Bang uil bewe. “W..w..w..at kom vannag oor ons, ons moet hier uit!” Terwyl die vrou haar nuwe baba omhoog hou, begin die koor buite saam met trompetgeskal sing: ‘Hark the herald angels sing, glory to the newborn King. Peace on earth..”

Die donkies begin balk, die koei roep haar kalf, die lammertjies begin rondom hulle ma’s huppel en die bok staan nuuskierig nader. “Bê-ê-ê” bler sy toe sy sien die baba wat in die krip lê swaai sy handjies in die lug rond. In die deuropening verskyn skaapwagters. “Ons het die ster tot hier gevolg en ons kom om Hom te loof.”  Die atmosfeer in die stal het heeltemal verander. Bang uil is nie meer bang nie. Hy is verwonderd en klap sy vlerke teenmekaar. “Hoe Hmm! Ek moet dit glo! Ek het die Koningskind gesien!” juig hy terwyl hy na buite vlieg om die storie aan die wêreld te gaan vertel.

Carine Badenhorst

En alles wat gevleuel is

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde se suksesverhaal het geen einde nie - die gilde groei van krag tot krag, met die een byeenkoms so gesellig soos die volgende een.

Gans-Berg Nuus / News
Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

On 4 April 2024, we invited local press and media for an informative Open Day. 

Grootbos Foundation
Easter Bunny Visit at Herberg aan See

Easter Bunny Visit at Herberg aan See

The Easter Bunny delighted everyone at Herberg aan See during the recent Easter weekend.

Herberg aan See
Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Do you ever feel like life is a constant struggle? One step forward, two steps back, and you're exhausted before the week even starts?

Monthly Home Maintenance Tips

Monthly Home Maintenance Tips

Stay on top of home maintenance with these monthly tips.

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

If you love hiking, you're in luck! N०1 Harbour Way is conveniently close to the breathtaking Duiwelsgat Hiking Trail, leading to Walker Bay Nature Reserve.

N०1 Harbour Way
See All Articles