Gansbaai Courant Terugblik 2015

Gansbaai Courant Terugblik 2015

Gansbaai Courant

Januarie - Die jaar het goed afgeskop met Gansbaai Academia se matriekuitslae met ‘n slaagsyfer van 89.5%. In die groep van 77 leerders was 11 repetisienorm leerders en in totaal het 68 van hulle geslaag. Daar was 12 onderskeidings. Die getal leerders wat met universiteitstoelating geslaag het was 14, 48 met diploma en 6 met hoӫr sertifikaat kwalifiserende uitslae.

Die sakeman en op daardie stadium eienaar van Vleispaleis slaghuis, Kobus (Spikkels) du Toit, was in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke. ‘n Motor wat langs die Kleinbaaipad ‘n werknemer opgelaai het, het voor hom ingedraai. Sy linkerbeen is ernstig beseer en is ‘n paar maande later onder die knie geamputeer.

Pres. Jacob Zuma het die regering weer eens verbind om energiesekerheid aan die land te verseker deur middel van die kernkragbouprogram. Daar word beplan om 9600mw se kernkrag op te wek. Bantamsklip net buite Pearly Beach bly ‘n voorkeurterrein.

Februarie – Die woonhuis van Elize van der Merwe (74) van Cilliersstraat 34 (Fyngesny) het in Franskraal afgebrand. Die tien jaar vooruitbeplanning van De Kelders deur die munisipaliteit het die belastingbetalers vereniging ontstel. Kleinskaal kommersiӫle en toerisme fasiliteite word op die publieke oop ruimte op die hoek van Guthrie straat & De Villiersstraat in die vooruitsig gestel. ‘n Publieke deelname proses sal gevolg word.

Die 2015 bemarkingsveldtog – “Trots / Proudly Gansbaai” het afgeskop met ‘n nuwe embleem “Gansbaai – the natural adventure destination.”  

Die plaaslike Besigheidsliga het begin met agtien deelnemende spanne.

‘n Tweede huis het in Kleinbaai afgebrand naamlik dié van Marie Smith van Kusstraat 13A. Die huis is in algeheel verwoes.

Maart – Die geskiedkundige African Penquin & Seabird Sanctuary (APPS), ‘n inisiatief en droom van Wilfred Chivell, is amptelik deur die Minister van Toerisme, Derek Hanekom, geopen. Dit is ‘n wêreldklas rehabilitasiesentrum.

Doreen Swartz van Herberg-aan-See Tehuis het na 40 jaar diens aldaar afgetree. Gansbaai Brandweerstasie moes in versengende hitte behoorlik bontstaan om verwoestende brande by Heidehof en Platbos Bos reservaat onder beheer te bring. Overberg Bootklub het uitstekend presteer gedurende die 2014 hengeljaar. ‘n Hele aantal van sy lede is deur die Westelike Provinsie Hengel vereniging vir hul prestasies beloon. Die 130km bergfiets fynbos roete vanaf Stanford tot by Aghulas is aangewys as “Best Adventure Destination 2015” deur  die Getaway Show.

April – Twee huisrowers het ‘n 25 jarige man in Hoofweg De Kelders in sy woonstel oorval en met ‘n pistool teen die kop gedreig. Verskeie items is gesteel. Gansbaai het Paasnaweek uit sy nate gebars en Uilenkraalsmond was ten volle beset en so ook Strandkloof karavaanpark. Die stortingsterrein by Karwyderskraal is amptelik geopen en het die druk op Gansbaai verlig, aangesien daar vir ‘n lang tyd al Hermanus & Kleinmond gebied se vullis hier gestort is. Na raming sal ongeveer 155 000 ton in hierdie nuwe sel gestort kan word.  Gansbaai is as die “Best Destination for Responsible Tourism”, asook algehele wenner tydens die African Responsible Tourism Awards aangewys. Met hierdie toekenning is Gansbaai outomaties een van die finaliste vir die wêreld kompetisie wat vanjaar in die Wêreld Handelssentrum in London plaasvind. 

Nog twee goue wenners van Gansbaai was Grootbos Privaat Natuurreservaat in vennootskap met Grootbos Foundation vir “Best for Poverty Reduction”. Marine Dynamics was die beste in die “Wildlife Conservation” afdeling.

Laerskool Okkie Smuts in Stanford het deelgeneem aan ‘n padda moniteringsprogram. Strikke is laatnag en vroegoggend gestel en bevindings gemoniteer. Die gevolge was dat die skool “Die Eco-Schools Groen vlag” ontvang het.

Mei – Bertus Smit (72) het verdrink toe die rubberboot waarmee hy en sy vriend gaan hengel het by Buffeljachts omgeslaan het. Sy vriend, Willem Snyman (64), het verbete om Bertus se lewe geveg. Die Fountainhill Bekostigbare Behuisings Projek van 155 eenhede is bekendgestel.

Overstrand Munisipaliteit het weer soos verlede jaar ‘n skoon ouditverslag gekry. Die verbypad 1214 agter Kleinbaai en Franskraal is geteer en die gemeenskap het hul dank daaroor uitgespreek.

Junie – Tanya Kleynhans van Pearly Beach wie se pa, Theo Kleynhans, 5 jaar gelede tragies gesterf het toe sy mikroligte vliegtuig neergestort het, het haar kommersiӫle vlieglisensie (CPL) ontvang.

Elektrisiteit is in 85 informele wonings in Masakhane aangeskakel en goeie rӫens het die knellende droogte gebreek.

Dr Lisel Joubert is bekroon vir haar boek – Ontmoeting met Heiliges. Sy het die Desmond Tutu Gerrit Brand prys ontvang vir hierdie debuutwerk. Die hengelaar Ferdi van Dyk stel ‘n voorbeeld toe hy sy “winter”-kabeljou van 11kg naby Uilenkraalsmond “tag” en vrylaat.

Prof. Jonathan Jansen, Visie kanselier en Rektor van die Universiteit van die Vrystaat besoek Gansbaai Academia. Danksy hom het twee van die skool se leerders, Bianca de Koning en Andisiwe Wulama reeds volle studiebeurse in 2014 ontvang.

Julie – ‘n Man wat positief deur sy vingerafdrukke met ‘n huisroof in November 2012 in De Kelders verbind is, is aangekeer. Sy vingerafdrukke is geneem na ‘n arrestasie vir inbraak in Hermanus en so is vasgestel dat hy Sivuyile Gwebo (32) is. Hy word verdink van die inbraak in De Kelders waar ‘n 25-jarige vrou, Candyn Edwards, met verkragting gedreig is.

Die skaapkopete ten bate van die Baardskeerdersbos NG-gemeente was ‘n reuse sukses en 102 skaapkoppe is verorber. Die skaapkoppe is deur  12 uur Kop Skaapkopgilde van Swellendam gaargemaak. Vir dié wat nie hiervoor kans gesien het nie, was daar braaivleis.

Augustus – Die Overberg Bootklib het vir die vierde keer die WPDSAA Bottomfish Interprovinsiale kompetisie in Kleinbaai aangebied. Werner van Zyl (Gansbaaier) het tydens die kompetisie sy Junior WP kleure ontvang. Die twee dames Amanda van Staden en Juanita van Zyl is ook in die WP Damesspan ingesluit.

Mauritz du Plessis, bekende vlieӫnier van Gansbaai was een van 4 Proteas wat aan vanjaar se Wêreld Presisie Vlieg Kampioenskappe gedurende Julie in Denemarke deelgeneem het. Hy het die 38ste plek tussen 75 vlieӫniers van 19 lande beklee.

Dr. Bobo se woordver-kondiging as leraar en as skrywer het op ‘n rotsvaste veronderstelling berus – “ ‘n Mens kan niks doen sonder dat God jou dit deur genade gee nie.”

Die Boereorkesikoon van Baardskeerdersbos, Manie Marais Groenewald (78), is oorlede.

Tydens die prestige Burgermeesterstoekenningsaand is 4 Gansbaaiers in die verskillende kategorieë vereer.

Vrou van die jaar: Kim “Sharklady” Maclean, Omgewingsbewaring Trofee: Michael Rutzen, Sertifikate vir uitnemendheid: Natasha Bredenkamp, Gabbi Jonker, Olga Swanepoel.

September – Twee mans het ‘n sluipmoordaanval by die Pearly Beach kruising op die R43 oorleef. Hulle is in ‘n geparkeerde voertuig deur die deur geskiet. Die bestuurder is 9 keer in die romp geskiet en sy passasier in die been. Vier mans wat aan hulle bekend was, is later gearresteer. Die aanval was moontlik weens ‘n gebiedsoorlog tussen die perlemoenstroper groeperinge.

Gansbaai Primêr se skoolhoof, Tommy Volkwyn, en sy adjunkhoof, Neil Pedro, is as Distrikwenners in hul katergorieӫ tydens die Nasionale Onderwys Toekenningsgeleentheid aangewys.

Johan van der Mescht van Franskraal is ingesluit in die WP se skietspan vir handwapen sowel as geweerskut.

Die Dept van Publieke Werke het R25.2 miljoen bewillig vir die opgradering van Gansbaai Hawe. Daar word beplan om die Hawe meer toerismevriendelik te maak.

OktoberJami-Lee Saunders (22), ‘n junior sjef van Grootbos Foundation, is aangewys as Jong Sjef van die Jaar 2015. Sowat 75 top restaurante word jaarliks vir die kompetisie geselekteer. Albert Potgieter se nuwe boek, Kwaailappies, vernoem na sy boot, is vol raad vir hengelaars.

Die linkerarm van Riaan van Vuuren (26) is tydens ‘n fratsongeluk uit sy elmboog geruk toe hy aan ‘n ysmasjien gewerk het. Hy het sy onderarm verloor.

Die Overberg kushengelklub het hul jaarlikse Interklub Sosiale Kompetisie teen die Suid-Kaapse Hengelkampioen, Stilbaai Hengelklub, gewen. Die Minister van Vervoer en Openbare Werke, Donald Grant, het Gansbaai besoek om strukturele foute by die nuwe Masakhane Laerskool te ondersoek. Dit word tans reggestel en die projek is met 6 maande verleng.

November Strandkloof karavaanpark se Tot en Isabel Fourie het die goue toekenning van Discount Traveler en Sanlam se Top Destination Awards ingepalm.

Gansbaai het homself bevestig as ‘n wêreldklas verantwoordelike Toerisme Bestemming toe Glenda Kitley, Bestuurder, Gansbaai Toerisme die Goue-toekenning as die wêreld se Mees Verantwoordelike Toerisme Bestemming in London ontvang het. Hierdie toekenning word gemaak aan ‘n vakansie bestemming wat ‘n inspirerende en invloedryke voorbeeld vir verantwoordelike toerisme is.

Die Gedenkboek komitee kondig aan dat die boek klaar saamgestel is en dat dit nou geredigeer word. Dié koffietafel-tipe boek (formaat – 290x200mm) het ongeveer 240 bladsye propvol nuus van Gansbaai se geskiedenis en sy mense. Die eerste oplaag is 500 en sal voor April 2016 beskikbaar wees. Boeke kan egter reeds bestel word by die Toerisme kantoor. Die koste is R300.

Henk en Kloeks van Zyl se huis, bekend as Kloeks@Home, is ernstig in ‘n brand in De Kelders beskadig.

Glenda Kitley het die Birkenhead gedenkmonument in Birkenhead, Engeland besoek. HMS Birkenhead, ‘n troepedraer, het in 1852 by Danger Point gestrand. Van die 638 mense aan boord het slegs 193 oorleef. Die dorp se burgermeester, Rdl. Les Rowlands, en Kitley het kranse by die monument gelê.

Die Birkenhead Boothengelklub het weer eens vir ‘n prestige jaarafsluiting gesorg en trotse boothengelaars is met spog-trofeë en sertifikate vir ‘n suksesvolle jaar se boothengel beloon, asook uitblinkers op sosiale gebied.

Desember - Oud Raadsheer en Uitvoerende Onder-Burgermeester van Overstrand Munisipaliteit, Pieter Scholtz en sy vrou, Ans, verhuis in die nuwejaar na die Bosveld. Pieter het die afgelope 15 jaar op die Munisipale Raad gedien en was betrokke by vele projekte waarby Gansbaai groot baat gevind het. Hy is tans steeds die Voorsitter van die Gansbaai Gedenkboek Komitee wat hy die afgelope 6 jaar met ‘n passie gedryf het. Sy droom word bewaarheid wanneer die boek -  Gansbaai, ‘n besondere streek en sy mense’ vroeg is 2016 verskyn.

Francois de Jongh, Uitgewer GB Courant

Gansbaai Courant Terugblik 2015

Francois de Jongh / Collage Monica Hayes

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Gans-Berg Nuus / News
Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf Competition Results for 17 - 21 April 2024

Golf competition results for 17 - 21 April 2024.

Gansbaai Golf Club
SMEG Traditional Kitchen Collection

SMEG Traditional Kitchen Collection

Explore the perfect blend of style and practicality with the SMEG Traditional Kitchen Collection, now in stock at S Herholdt. 

S Herholdt
Spread the Word: Top-Notch Real Estate Service You'll Want to Share!

Spread the Word: Top-Notch Real Estate Service You'll Want to Share!

We're dedicated to providing top-notch service, giving you something to shout about.

Emotional Responsibility: Unlocking Growth and Opportunity

Emotional Responsibility: Unlocking Growth and Opportunity

It is common to say things like "You make me angry," "You make me feel sad," or "You make me uncomfortable."

Hands-On Brushcutter Training at Green Futures College

Hands-On Brushcutter Training at Green Futures College

Check out the horticulture students at Green Futures College in action!

Grootbos Foundation
See All Articles