Die Gansbaai-tak van Solidariteit Helpende Hand het kort voor Kersdag ‘n smaaklike ete vir enkele bejaardes in die Kersmark se restourant gereël. “Gansbaai Helpende Hand het hierdie bederfie gedurende die Kerstyd vir hulle gereël na aanleiding van ‘n ruim donasie deur Bokradio, waarvoor ons groot waardering het,” vertel Maretha Geldenhuys, voorsitter van Gansbaai Helpende Hand. “Daarom kon ons hulle nog verder bederf met geskenkies en kruideniersware en daar is nog heelwat bejaardes wat ons graag gedurende die res van die week wil bereik.”
Maretha sê hulle hoofdoel is om gedurende die jaar na behoeftiges om te sien - volwassenes en kinders. “Daarom probeer ons ook fondse bymekaar maak om ook kinders in Gr RR en Gr R te borg.” Hulle verskaf ook voedselpakkies en klere wanneer hulle daarvan beskikbaar het. “Baie dankie aan diegene wat ons met donasies help,” sê Maretha. “Maar ons benodig ook dringend mense wat as ondersteuners en hulpwerkers by ons wil aansluit.” Sy sê die nuwe jaar wat wag word weer eens as ‘n uitdaging beskou waarin groot uitreike na veral bejaardes en kinders geloods sal word - “maar daarvoor word fondse benodig”.
Solidariteit Helpende Hand is ‘n nie-winsgewende organisasie (NWO) en daar is bepaalde vereistes waaraan voldoen moet word. Helpende Hand is reeds in 1949 as antwoord op die armoedekrisis ná die Tweede Wêreldoorlog gestig. “Ons ontvang ook geen lotto- of regeringsfondse nie en is alleenlik op skenkersgelde aangewese,” sê Maretha.
Enige persoon wat behulpsaam wil wees met donasies, skenkings of ondersteuning, kan gerus vir Maretha Geldenhuys by 082-805-3964 kontak.
Hardus Botha