Mej Suid-Afrika Finalis, Marciel Hopkins (22), was heel bedrywig tydens haar vakansie in Franskraal. Sy het ewe beskeie gevra om tydens haar vakansie betrokke te raak by gebeure in Gansbaai. (Gansbaai Courant, Donderdag, 23 Desember 2015).
Gansbaai Courant en Gansbaai Toerisme se Glenda Kitley het koppe bymekaar gesit en heel spoedig moes Marciel haar dagboek gereed kry: Die Kersmark is besoek; Gansbaai Toerismekantoor is besoek waar sy geskenkies namens die Toerismekantoor aan kinders uitgedeel het en ook ‘n bottel goeie wyn van die Bestuurder, Glenda Kitley ontvang het; Herberg-aan-See is besoek waar sy met groot opgewondenheid ontvang is; Beoordeling van Mnr & Mej Uilkraal; Prysuitdeling by Gansbaai Lionsklub se Halfmarathon; Walvisbesigtingings-bootrit op Wilfred Chivell se Dream Catcher; Besoek aan die African Penguin & Seabird Sanctuary; Haaiduik op Slashfin van Wilfred Chivell; Besoek aan Panthera Africa buite Stanford; Kersdiens te Baardskeerdersbos.
Marciel ken hierdie wêreld reeds vanaf kindsbeen en vir die afgelope 20 jaar het sy vakansies saam met haar ouers, Charles en Annaline hier deurgebring.
“My vakansie hier was die vriendelikste wat ek nóg êrens beleef het - ek het soos ‘n ware prinses gevoel oral waar ek opgetree het,” het Marciel gesê. “Dit was ‘n wonderlike ervaring vir my gewees.”
Hardus Botha