Gansbaai Toerisme se Maureen Valentine het haarself sedert haar aanstelling al deeglik bewys. Sy het onlangs ‘n kursus in Introduction to Customer Service Level 4 bygewoon en haar Certificate of Competence suksesvol verwerf.
Die kursus is deur Overstrandse Munisipaliteit gereël en die aanbieder was Joleen du Plessis van ALIVE!P.T.L.cc. Elke kursus bring verdere en meer uitgebreide kennis mee wat Gansbaai Toerisme se personeel net nog meer bekwaam maak. Glenda Kitley, Bestuurder: Gansbaai Toerisme het Maureen se sertifikaat aan haar oorhandig. Maureen het gedurende November en Desember 2014 as ‘n tydelike beampte gewerk, waarna sy aan die begin van 2015 permanent aangestel is. Sedertdien het sy haarself as vriendelik, behulpsaam en opgewasse vir haar pligte bewys.
“Ek geniet my werk as Inligtingsbeampte terdeë, veral die verskeidenheid van mense, kulture en tale waarmee ek daagliks te doene kry,” sê Maureen. Sy hou baie van die buitelug, natuurlewe en tuinmaak en is baie lief vir voetslaan en staptogte, “maar ek hou ook daarvan om te kook en te bak!”
Vir vriendelike en kundige ondersteuning kan hierdie span by 028-384-1439 gekontak word, of stuur ‘n e-pos aan hulle by gansbaaiinfo@telkomsa.net. (Webtuiste: gansbaaiinfo.com)
Hardus Botha