Die jaarlikse Lighuis tot Lighuis Bergfietswedren van Gansbaai Lionsklub (13 en 14 Februarie 2016), was weereens ‘n groot sukses, ondanks heelwat minder inskrywings as gevolg van nog ‘n Bergfietswedren te Stanford gedurende dieselfde naweek.
Vanjaar was die twee hoofborge Gansbaai Superspar en Gansbaai Marine. Die wedren begin by Dangerpoint Lighuis tot by Agulhas Lighuis, waar hulle oorslaap. Vroeg die volgende oggend ry hulle weer terug na Dangerpoint en die twee sub-wedrenne se tye word dan bymekaar getel om die wenners te bepaal. Van die 63 inskrywings het 56 die wedren by Dangerpoint begin en 42 het die wedren voltooi.
Die eerste 4 mans-wenners na Agulhas Lighuis en terug (totale tyd in hakkies) was: Andreas Studer (07:57:18) en Gideon van der Berg (08:40:00), met Pierre Evard en John Gale wie se totale vir die 2 afstande 08:53:13 was. Die eerste 3 dames was : Liezel Jordaan (10:23:41), Hanlie Costa (11:13:36) en Jennifer Sturgeon (11:45:25).
Gansbaai Lions rig graag die volgende bedankings (alfabeties): Birkenhead Brewery, Bon Courage, Bredasdorp Lions, Britz van JA Sementwerke, Cedarberg Aqua Citrusdal, Danie Swart (Erdinger), Grootbos Foundation, Japie Swart, JLR & Accociates, Johan Strydom, Lomond Wines, Overstrand Medical Reponse (Riaan), Pearl Mountain, ROLA VW Hermanus, Sarona’s Health & Beauty Clinic, Secma Security, Tydhouers (Fanie Helberg en Cor van Eyssen), Van Loveren Wines en Gansbaai Verkeer.
“Baie dankie ook vir al die ryers wat ons ondersteun het.”
Laastens, maar nie die minste nie, is om vir al Gansbaai Lions opreg te bedank vir hulle harde werk - voor, tydens en na afloop van die naweek. “Ondanks die minder inskrywings, is ek dankbaar vir die wedren wat suksesvol afgeloop het, met al ons harde werk wat nie verniet was nie,” het Lion Boats van Staden gesê.
Hardus Botha