“Wow!! Amazing!!,” is die woorde waarmee Black Leaves se Bestuur die naweek by die Wesbank 7’s toernooi beskryf het. “Ons bedank graag almal wat op een of ander wyse gehelp het om hierdie spesiale naweek moontlik te kon maak.”
Die opgewonde span kon nie wag om met die reis daarheen te begin nie. Net buite Hawston het die voertuig onklaar geraak, maar nie eers dit kon hul geesdrif demp nie en ‘n kitaar is uitgehaal om musiek te maak. “Ons het baie ondersteuners in Malmesbury gekry, wat aan ons borrelende geesdrif te danke was.”
Die dag van die wedstryde het warm begin met 33 grade, maar die span het hulself goed van hul taak gekwyt. Die wedstryd teen die Kuilsrivier-kampioene was hard, maar Black Leaves het met 17-14 gewen. Dit was die regte motivering wat hulle nodig gehad het en na nog wedstryde het hulle die uitklop-fase gehaal. “Ons het trots op die A-veld gedraf om die kleiner span, die Young Peoples, aan te pak.” Ongelukkig het die Young Peoples hulle met uitstekende spel geklop. “Dit was ‘n vinnige en harde wedstryd en teen halftyd het ons 12-7 voorgeloop, maar die hitte teen 41 grade het sy tol geëis en ons het die wedstryd verloor.”
Met die sowat 42 spanne wat deelgeneem het, voel die Black Leaves baie trots omdat hulle so ver in die kompetisie gevorder het. Die manne het hul harte uitgespeel en voel uiters positief oor die toekoms. Hulle het onlangs met Bredasdorp in vennootskap getree, met Boland Rugby 7’s as afrigter. Die afrigter is baie positief oor die span en daar bestaan selfs ‘n moontlikheid dat van die spelers die span na Kenya kan haal.
Bedankings: Grootbos Private Nature Reserve en die Football Foundation (T-hemde, baadjies, ens), Sharline, Riaan Groenewald, Nicole Arends, Christoff Longland, Franklin Pieters, Taurus en vele meer vir kontantdonasies. Die Bestuur bedank ook mnr Europa vir voertuie wat beskikbaar gestel is, asook Silwerjare wat met die vervoer gehelp het.
Hardus Botha