Die jaarlikse en gewilde Skemerstap is ten bate van Gansbaai se Goue Hande se werksaamhede by Herberg-aan-See Tehuis vir Bejaardes (HaS). “Stappers word versoek om vroegtydig in te skryf, aangesien ‘n afsny-getal gefinaliseer moet word,” is Francia van Dyk, organiseerder, se vriendelike versoek.
Vanjaar word die Skemerstap vir Woensdag, 2 Maart 2016 beplan. Deelnemers moet daarop let dat die begintyd ‘n ½ uur vroeër is, naamlik om 17:30. Stappers kom weer by die Kleinbaai Sleephelling bymekaar en die “Groot Stap” begin dan stiptelik om 17:30. Hulle stap rustig en ontspanne in ‘n groep onder begeleiding (voor, middel en agter) kuslangs tot by die Strandveld Museum, waar groot verrassings met eet- en drinkgoed op hulle wag. Gelukkig is daar so halfpad ook ‘n afkoeldingetjie wat gewoonlik op hulle wag.
Naas die gesellige saamstappery, is die hoofdoel van die Skemerstap om vrywillige fondse, wat in vooraf verkrygbare koeverte geplaas kan word, vir Gansbaai se Goue Hande in te samel vir hulle onbaatsugtelike werksaamhede by HaS. Inskrywings-koeverte, waar die vrywillige donasies in geplaas kan word, is by HaS, asook by Vrydae se Woekermarkte in die Pretoriussaal, beskikbaar. Onthou om betyds in te skryf en die stap se datum is Woensdag, 2 Maart 2016.
Navrae rakende die koeverte kan aan Herberg-aan-See by 028-384-0501 gerig word, terwyl algemene navrae oor die Skemerstap aan Francia van Dyk by 028-384-0262 of 082-551-3613 gerig kan word.
Hardus Botha