Heidi Scrooby van Radio Whale Coast 96FM in Hermanus was die NG-Vrouediens se gasspreker tydens hulle onlangse byeenkoms in die Pretoriussaal. “Sy het die dames behoorlik aan haar lippe gehad met haar aanbieding,” vertel Petro Scholtz. Dit was die Gansbaai-streek se dames se beurt om die funksie aan te bied. Soos gewoonlik het hulle weer by pragversierde tafels aangesit met ‘n soetigheid en soutigheidjie saam met die drinkgoedjies. Heidi het vooraf laat weet dat die inhoud van haar praatjie ‘n verrassing is. “Deel van my passie in die lewe is vir my God en sy waarheid en dat net Hy in suiwerheid aanbid moet word,” was Heidi se inleidende opmerking.
Sy het onderwys op Tukkies studeer, maar het intussen op Kommunikasie-kunde en Sielkunde gefokus, met ‘n deel van haar studies oor modules oor die TV- en Radiowese. Sy is sowat 3+ jaar gelede deur ‘n persoon by Whale Coast 96FM genader om betrokke te raak. “En so het die radioprogram, Oggend Joernaal sy geboorte gekry en ek is steeds daar,” sê sy. “Die program is vol musiekverskeidenhede, nuus, resepte, plaaslike aankondigings en gebeurtenisse en dies meer.” Sy beskou die luisteraars as die hartklop van Whale Coast FM, aangesien hulle maar die mikrofone kan afskakel sonder hulle. Sy het goeie agtergrond oor haar en ander programme aan die dames oorgedra en haar begeerte uitgespreek: “Ek wil saam met jou in jou huis kuier en hopelik deel word van ‘n groot familie in die Overstrand en Overberg.”
Heidi het afgesluit met die woorde: “My hartsbegeerte is dat luisteraars aan die einde van elke program sal kan sê: ‘daar’s hy, ek voel nou sommer gereed vir die dag!’”
Hardus Botha