Stukkie Africana

Stukkie Africana

Gansbaai Courant

Ek kom gister af op hierdie brief dd 5 November 1953. Die eerste, laaste en enigste wat my skoonpa ooit vir Skoonma geskryf het terwyl sy in Volkshospitaal was.

“Liewe ou vroutjie, Ons was baie bly toe ons ‘n brief van jou af kry, ek moes dit dadelik lees want oupa en ouma wil net weet wat jy sê en jy het so mooi geskrywe dat ek somaar dit gou gelees het. Ou vroutjie ons verlang maar baie en mis jou ook baie. [Par] Met ons gaan dit baie lekker en Koos en Gallie speel baie lekker en is baie soet, Koos het gister geval en die neus stukend. [Par] Met die oesery gaan dit swak want dit het gereën van Maandag tot Woensdag, suidoos, en die graan is nat ek meen darm as die son skyn dat ek weer Saterdag weer sal begin. Ek hoop net jy verstaan my geskryf. Ek het darm al 500 gars uit en darm al baie gesny en verder het ek darm ‘n baie mooi oes. [Par] Jou hoenders lê maar nog net so en verder is hulle vol blouluisies Oma het al vreeslik gedokter want daar is ‘n paar lam. Oupa en Oma was gister dorp toe en het konfyt saamgebring. Oma het gekarring en ons het vreeslik gesoek na botterpapier maar kon nie gekry het nie, maar het by Ant Cato geleen ma het die botter verkoop. Die ponder het ons darm gekry. Die ou koeitjies gee darm nog baie melk. Oom Jannie het al baie gesny en is vreeslik haastig. [Par] Ma wil liewer hê jy moet maar eers huistoe kom voor jy na Koos en Sara toe gaan. Jouwie sal dan vir jou kom help want sy sê jy is nog te swak om jou ou kindertjies te besorg en dan moet die meit saam en dan is hier nie een om Jouwie te help nie ek hoop jy verstaan my geskryf en jy sal ook seker my brief waardeer want dit het darm swaar gegaan om so ver te kom om te skryf. [Par] Almal het nou al gaan slaap en ek sukkel nog met die spelling, maar ek hoop net jy sien my oor. [Par] Jy lees seker aldag se koerant en weet alles wat aan gaan, arm Ant Mat is glo baie siek sy is in die Monte Rosa Hospitaal, ek het gemeen pa en die sal kom kyk sodat ek na jou kan kom kyk maar hulle sê oom Danie het gesê dat hulle eers anderweek moet kom kyk. As dit mooi dae is dat ek kan werk sal ek Sondag seker kom. [Par] Ou vroutjie ek gaan nou maar slaap want ek voel tamelik moeg want dit was vandag baie warm. [Par] Baie groete van pa, ma, jou klein seuntjie en Gallie. Jy het seker nie geweet dat jou ou man kan skrywe nie né. Ons hoop jy word gou gesond en kom gou terug, ons bid darm vir jou in ons swakheid, en jy vir ons. Ons was Sondagaand 7 uur by die huis, en ek het 2 maal gebel na die Hospitaal en gevra hoe dit met jou gaan en ook vir miesies Harris. [Par] Ek moet nou ophou want ek het nie meer papier nie want ek het 3 blaadjies by tanie Rina geleen want ek het nog so baie wat ek wil vertel. Ons verlang baie en dink baie om jou, baie groete en twee lekker ou soentjies. [Par] Jou man Bus. [Naskrif] Nou die adres op die koevert is my dood. “

Die voorkant van die koevert met ”my dood” se adres in los skrif geskryf en ‘n 2-pennie seël is eweneens ook bewaar. Dit dra Rietpoel se posstempel. Oom Bobby Plein se winkeltjie daar was sommer die poskantoor ook, soos wat dit die off sales ook was. Of daar ooit ‘n lisensiehaan na gekraai het, glo ek nie, want buiten die mos het daar gellingkanne witblits ook agter daardie toonbank uitgekom. Soms, wanneer daar genoeg boere tegelyk teenwoordig was, het die winkeltjie ook ‘n kroeg geraak. Dan het die manne met twee rye spore tuisgekom. Dit was die jare 50: eenvoudig en naïef met ‘n goeie skuut stoutigheid. Africana.

Carine Badenhorst

Stukkie Africana

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde se suksesverhaal het geen einde nie - die gilde groei van krag tot krag, met die een byeenkoms so gesellig soos die volgende een.

Gans-Berg Nuus / News
Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

On 4 April 2024, we invited local press and media for an informative Open Day. 

Grootbos Foundation
Easter Bunny Visit at Herberg aan See

Easter Bunny Visit at Herberg aan See

The Easter Bunny delighted everyone at Herberg aan See during the recent Easter weekend.

Herberg aan See
Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Do you ever feel like life is a constant struggle? One step forward, two steps back, and you're exhausted before the week even starts?

Monthly Home Maintenance Tips

Monthly Home Maintenance Tips

Stay on top of home maintenance with these monthly tips.

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

If you love hiking, you're in luck! N०1 Harbour Way is conveniently close to the breathtaking Duiwelsgat Hiking Trail, leading to Walker Bay Nature Reserve.

N०1 Harbour Way
See All Articles