Die SA 8 Bal Dames Potspel Kampioenskap vir 2016 word vanaf 23 tot 29 April by die Gracelands Casino in Secunda, Mpumalanga aangebied. Jaarliks word Provinsiale spanne vanuit plaaslike Ligaspanne gekies om hul provinsies te verteenwoordig.
“Ons dames speel onder die vaandel van WP Platteland, wat die Valsbaai- en Overbergareas dek,” vertel Hugo Lam-brechts. “Die volgende dorpe in die Overbergarea is in ons plaaslike liga betrokke: Gansbaai, Caledon, Hermanus, Bredasdorp en Struisbaai en daar word 9 dames per provinsie vir hierdie spoggeleentheid gekies.” Van hierdie 9 dames is Hugo trots om te sê dat 5 Gansbaaiers is. Die res is 2 dames van Valsbaai en 2 van Hermanus.
Die gedugte Damesspan (in spelernommer volgorde) is: Melanie Smit (Gansbaai), Adéle Venter (Gansbaai - Kaptein), Natasha Williams (Valsbaai), Suzette Brand (Gansbaai), Sanet Basson (Hermanus), Annaline van der Nest (Gansbaai), Brendeline Thomas (Valsbaai), Selene Havenga (Gansbaai) en Laylah Frick (Hermanus). Hulle spanbestuurder is Frankie Bantom (Caledon) en die twee skeidsregters is Edward Visagie (Valsbaai) en Reggie Jasper (Caledon).
“Die 8 Bal Dames Potspel is tans nog ‘n amateursport, gevolglik moet die span (11 lede) self die kostes soos vervoer, akkommodasie, uniforms en dies meer dra, wat vanjaar sowat R47,242.00 beloop,” vertel Hugo.
“Fondsinsameling is dus baie belangrik en nodig om die SA Kampioenskappe te kan bywoon.” Hugo rig graag die volgende bedankings aan instansies en persone wat reeds gehelp het: Jimmy en Johnny Rockets, Gansbaai Discount Liquor, Gansbaai OK Foods, Uilenkraal Kafee, Tuscany Coffee Shop, Marietjie’s Pub & Grill, Bon Bon’s, Suzette Brand, Marinda Havenga, Adriaan en Sanet Basson en Lee-Ann van den Berg.
Belangstellendes wat graag ‘n bydrae wil lewer, kan die Spankaptein, Adéle Venter by 072-101-3877 skakel, of stuur ‘n e-pos aan haar by adeleventer@gmail.com.
Adéle sê hulle sien baie uit na die toernooi en vertrou hulle kan die gesogte trofee huis toe bring. “Dit is ‘n groot eer om jou provinsie te verteenwoordig en ons wens hulle alle sterkte toe,” het Hugo namens die res gesê.
Hardus Botha