Gansbaai Toerismekantoor troon in gewildheid beslis uit bo vele ander Toerisme-kantore. Gereelde besoekers en positiewe opmerkings in hulle besoekersboek is aanduidings daarvan.
Onder andere is daar instansies en groepe wat gereeld na Gansbaai kom en byna sonder uitsondering ‘n draai by Gansbaai Toerisme gaan maak.
“Die koördineerder van ‘n Seniorgroep in Plumstead het my ‘n tydjie gelede gekontak en ons het sinvol via e-posse gesels,” vertel Glenda Kitley, Bestuurder: Gansbaai Toerisme. “Die dame reël toere vir die bejaardes en sy het gevra wat hulle hier kan kom doen en sien.”
Glenda het haar genooi om by Gansbaai Toerisme te kom inloer. Die eerste groep van 60 bejaardes het die kantoor op Dinsdag, 12 April kom besoek en die tweede groep van 60 op Saterdag, 23 April.
“Hulle het dit baie geniet, foto’s van ons uitstallings geneem en vele vrae gevra,” vertel Glenda. “Daarna kon hulle verder rondry met genoeg inligting oor besienswaardighede wat hulle kon besoek.”
Glenda vertel dat hulle die 2 groepe bejaardes jammer gekry het oor die lang afstand per bus en sy en haar personeel het toe koeldrank en koekies voorsien wat heerlik geniet is.
Gansbaai Toerisme se vriendelike en kundige personeel kan by 028-384-1439 gekontak word, of stuur ‘n e-pos aan hulle by gansbaaiinfo@telkomsa.net.
(Webtuiste: gansbaaiinfo.com)
Hardus Botha