Opleidings-geleentheid

Vele suksesvolle kursusse in Huis-houding en Tuisversorging is al deur Suster Iréne de Waal van Carpe Diem Opleidingsentrum in Caledon aangebied. Nou is daar weer vir Gansbaai en omgewing geleentheid om as Tuisversorgers opgelei te word - in Afrikaans. Iréne is ‘n geregistreerde Verpleegkundige en Assessor en sy is reeds 20+ jaar by opleiding en werkskepping in die Wes-Kaap betrokke. Sy kan ook vir advies rakende die pligte, besoldiging en werksure van Tuisversorgers gekontak word. Die volgende kursus is in Gansbaai en is om die draai, met slegs 15 kandidate wat geakkommodeer kan word.

Dit word vanaf 2 Mei tot 17 Junie vanjaar by Silwerjare Dienssentrum aangebied en klasse sal daagliks vanaf 08:00 tot 16:00, Maandae tot Vrydae, plaasvind. Die kursusse is prakties georiënteerd en Iréne sê die Tuisversorgers is na afloop van die kursus gereed vir uitplasing en sal met selfvertroue by tuisversorging en huishoudings kan inpas. Drie Gansbaai-presteerders in 2015 is: Jacoba Lewies (Hoogste lof in Praktiese Tuisversorging), Thelma Konco (Hoogste lof vir Praktiese Tuisversorging) en Minette October (Hoogste lof in Teorie-Tuisversorging). Volledige besonderhede rakende die plek, kostes en dies meer, asook aansoekvorms, kan by Iréne bekom word, maar is ook by Silwerjare Dienssentrum in Blompark beskikbaar.

Skakel Suster De Waal by 028-212-1138 of 071-125-4704, of stuur ‘n e-pos aan haar by  carpe-diem@vodamail.co.za.

Hardus Botha

Drie Gansbaaiers wat in 2015 hul kursusse met hoogste lof voltooi het, met vlnr Jacoba Lewies, Thelma Konco en Minette October.   (Argieffoto: Gansbaai Courant)