Eerste Hoop Wynkelder se wynmaker, Werner Barkhuizen (aanbieder), was heel tevrede met hoë toekennings deur Gansbaai Wynproegilde se lede tydens die onlangse wynproe-aand in Tolbos Bistro.
Voorsitter Theuns Roodman het die verwelkoming waargeneem, met spesiale verwysing na rdl Riana de Coning en haar eggenoot, Kim. Daarna is Werner, wat sowat 3 jaar by Eerste Hoop Wynkelder as wynmaker werk, met uitstekende vorige ervaring ook by ander wynkelders, aan die woord gestel.
“Dit is ‘n kleinerige wynplaas van 11.5 hektaar en ons fokus hoofsaaklik op die uitvoer van ons wyne, waarvan die meeste aan België gelewer word,” het Werner gesê. “Ons beskou kwaliteit as van groter belang as hoeveelheid.” Werner het die volgende wyne te proe aangebied: Blushing Bride 2014, ‘n Pinot Noir Rosé wat op die tafels vir die gaste gewag het; Viognier 2014; LodewijkX Blend 2012; Pinot Noir 2013; Shiraz 2010. Deurgaans was die toekennings ‘n sterk silwer en/of goud. “Die LodewijkX Blend 2012 is ‘n eerste in ons tyd,” het Werner gesê. Die samestelling van hierdie versnit is uitsonderlik, met slegs 2,000 bottels wat per jaar vervaardig word: Chardonnay (44%); Chenin Blanc (36%); Viognier (20%).
Wayne Devitt van Tolbos Bistro het seker gemaak die regte voedsel word saam met die regte wyne voorgesit. As voorgereg was daar smaaklike Vichyssoise- en Vegetable sop. Die hoofgereg was Cog au Vin op rys met groentes.
Suna Swart het ‘n blyk van waardering aan Werner oorhandig. Hy was baie beïndruk toe hy die pakkie oopmaak en sien dit is een van Gansbaai Wynproegilde se pragtige voorskote met die gilde se embleem daarop. “Baie dankie en dit gaan my handig te pas kom,” het Werner gesê.
Vir navrae rakende Gansbaai Wynproegilde kan Amanda de Vries by 028-388-0708 of 082-577-6920 geskakel word, of stuur ‘n e-pos aan haar by info@franskraalbandb.co.za.
Hardus Botha