Die afgelope Basaar van Gansbaai NG-gemeente was weer eens ‘n baie groot en gesellige sukses, met basaargangers wat telkens hul tevredenheid uitgespreek het. Ds Dirk van Dyk het die basaar op Saterdag, 30 April 2016 geopen. Sommer vroeg-vroeg was maande se harde werk iets van die verlede, maar nie sonder tevrede glimlagte nie.
Tussendeur het Eddie Barnard se sangstem verdere lekkerte tot die gesellige atmosfeer bygedra. “Aan alle Gansbaaiers en kuiergaste die afgelope langnaweek: namens almal wat so hard vir ons Basaar gewerk het, wil ons een en almal opreg bedank vir die wonderlike ondersteuning,” sê Mima Snyders, Sameroeper: NGK Basaar.
“Dankie teenoor almal wie se harte en beursies oop was en ons basaar kom ondersteun het - dankie vir elke persoon se onbaatsugtige bydraes en vir die groot verskeidenheid produkte wat geskenk is.” Mima sê hulle is terdeë bewus van die moeilike ekonomiese toestande, maar ten spyte daarvan sê sy is hulle oorlaai met vele goedheid, gawes en guns.
“Baie dankie en ons opregte gebed is dat elke persoon wat gekom het, betrokke was en bydraes gelewer het, oorvloedig geseënd sal wees!” sê Mima. “DV volgende jaar maak ons weer so!”
Hardus Botha