Dis nie meer uitsonderlik om te sê dat ek hengel geniet nie. En ek praat van beide boot- en strandhengel, asook van die see in die algemeen. Maar dis veel meer as dit. Teen hierdie tyd is dit vir my ‘n manier van lewe waarsonder ek beswaarlik sal kan klaarkom.
Waarom dit van soveel waarde is is dat die mense wat saam die sport beoefen goeie vriende word en natuurlik ook deel van jou daaglikse bestaan uitmaak. Die feit dat dit hengelmaats is is natuurlik deel daarvan, maar ook hulle families word vriende en so vermeerder die kennisse. Ek dink dat een van die groot satisfaksies wat die sport jou besorg is juis, en hier verwys ek meer na die bootsituasie, die genot wat geput word uit wat ‘n nuweling kry uit daardie eerste dag op see. Almal weet mos wat gewoonlik gebeur met so ‘n persoon se rit op woelige water! Maar dis alles deel van die hele storie en heel gou is die nuwe outjie ingeburger en skree net so hard as sy vis bo water verskyn. Dan het ek nog nie eers gekom by al die ander “voordele” nie. Hier verwys ek na die natuur en alles wat daarmee saamgaan -- die vroeë sonsopkoms, die seewater op jou gesig, die opwinding van die vangs, en natuurlik die aangename dag waarby ingesluit is vanaf ‘n goedige gespot tot meer ernstige sake (maar ons praat mos nie uit die boot nie!).
Daar is ‘n ander kant van die storie. As jy op see uitgaan moet jy die feit aanvaar dat daar elemente is waaraan jy blootgestel gaan word en waaraan jy soms bitter min kan doen. As die onvoorsiene gebeur moet jy net nie tot die probleem bydra nie. Wat ek hier bedoel is dat jy moet seker maak van jou boot se seevaardigheid, die weer in gedagte moet hou ( moet jou nie blindstaar oor hoe veral die water op enige gegewe oomblik lyk nie, maar hoe dit dalk kan verander). ‘n Goeie waarneming sal wees, is daar enige ander bote uit? Veral wanneer die Hardebaarde afwesig is, gaan liewer huis toe. Nog iets, probeer wegbly van die water wanneer mis aanwesig is of die sig beperk is -- daardie allesbelangrike GPS kan ook probleme gee, of mag dalk verkeerd aangewend word. Bly ook weg van plekke wat gevaarlik kan wees of kan word.
Die “lekkerkry” en die “pas op vir” is dalk teenstrydig maar is onlosmaaklik van mekaar, en as jy die see ten volle wil geniet moet veiligheid, kophou en respek altyd ‘n hoë prioriteit bly. Lekker dag by die see vir almal.
Groete,
Seemeeu