Die kleuters (of dalk eerder die bestuur?) van De Kleine Gansies Kleuterskool sit nie op hul louere en wag vir fondse nie. Hulle, asook pappas en mammas, klim met harde werk in om broodnodige fondse te in. Met Moedersdag het hulle geluktrekkingslootjies teen R5 per lootjie verkoop en ‘n pragtige bedrag ingesamel. Drie gelukkige mammas of oumas het pragtige pryse gewen. Hulle is Stella Harding, Rita Viljoen en Nuraan Marthinus.
“Hierdie fondse word gebruik om opgraderings by die skool tot voordeel van die kleuters te doen,” sê JP Coetzer. “Onlangs het Valentynsdag en die Sportdag se fondse weer gehelp met die oprigting van ‘n skadunet oor die ‘Jungle’-speeltoerusting en nou wag die mure weer om geverf te word.”
Eersdaags is daar nog ‘n geleentheid vir die wen van 3 pragtige pryse - hierdie keer vir Vadersdag. Daar sal weer looitjies teen R5 verkoop word en alle pappas en oupas, ook in die gemeenskap, word uitgenooi om te koop. “Hierdie pogings van ons kan nie slaag sonder getroue borge wat ons ondersteun nie en vir wie ons opreg baie dankie wil sê,” sê JP.
Hierdie borge, vir wie die Gansies sekerlik in dankbaarheid kwaak, is: Chris en Petra van Rensburg van Gansbaai OK Foods (3 bokse sjokolade); Carien Fourie van Protea Flora (3 bosse blomme); Deidre (Didi) Scholtz van Deidre’s Nail & Beauty (3 geskenkbewyse); 3 geskenkbewyse vir hare-doen onderskeidelik van: Chantell Gericke van Snippets Haarsalon; Liezel Prinsloo van Tizelle Haarsalon; Natasha van der Berg van Hair Style Studio.
Hardus Botha