Tanya Smit (30) van Gansbaai is onlangs gekies om Suid-Afrika as skeidsregter in 2017 (±Junie) by die Worlds Eight-ball Pool Championships in Engeland te verteenwoordig. Hierdie eer het haar te beurt geval nadat die South African Pool Referee Association (SAPRA) haar as verteenwoordigende skeidsregter van Suid-Afrika aangewys het.
Tanya het sowat 7 jaar gelede met Potspel (“Pool”) begin, en haarself binne 2 jaar (sowat 5 jaar gelede) as skeidsregter gekwalifiseer. Sy dien tans as skeidsregter vir Western Province Country Region (WPCR). Sy het vroeg in haar potspelloopbaan besluit haar eintlike liefde vir die spel is in die rol van skeidsregter gesetel. Sommer in haar eerste jaar as skeidsregter is Tanya tydens ‘n SA Toernooi in 2012 as "Skeidsregter van die Toernooi" aangewys. In 2014 ontvang sy haar Springbokkleure as Potspelskeidsregter vir WPCR in die Wes-Kaap. Tydens die onlangse Dames Potspel Liga in Secunda het Tanya as speler ook goed gevaar en onder die Top 32 uit sowat 200 deelnemers geëindig.
Tanya is ‘n werknemer van die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie as Hoofklerk: Operasionele Dienste.
Hardus Botha