Gelukkig is die borgskap nie letterlik vanaf mnr Grootwithaai nie, maar wel deur Brian McFarlane van Great White Shark Tours in Kleinbaai hawe.
“Ons een ambulans is einde verlede jaar al volledig herstel, maar weens ‘n gebrek aan fondse kon dit nie afgehaal word nie,” vertel Riaan Buys van Overstrand Medical Response. “Ons het Brian McFarlane van Great White Shark Tours genader met ‘n voorstel dat ons bepaalde dienste aan die firma beskikbaar sal stel in ruil vir ‘n borgskap.” Brain het die borgskap, ‘n aansienlike bedrag, toegestaan en gesê dit gaan vir hom daaroor dat Overstrand Medical Response uitstekende dienste vir die gemeenskap lewer en dat hy graag op hierdie wyse by hulle betrokke wou raak.
Overstrand Medical Response van Cassie Carstens en Riaan Buys is lankal reeds ‘n pertinente deel van die gemeenskap met vinnige en effektiewe mediese dienste wat deur hulle beskikbaar gestel word. Naas Cassie en Riaan, bestaan die span tans uit Chantelle Colyn, Chantell Carstens en ‘n vrywilliger, Henk Weyers. Dan is daar twee ambulanse (een tans buite werking), asook twee noodvoertuie. Vir etlike voordelige voordele, kan die span vir permanente lidmaatskap deur gemeenskapslede gekontak word - teen ‘n minimale maandelikse lidmaatskapfooi van R100. Die aanvanklike eenmalige R50 administratiewe bedrag is met ingang van 1 Mei 2016 om bepaalde en gemotiveerde redes na R200 verhoog. Die res van hulle vele voordele met lidmaatskap is onveranderd gelaat.
Overstrand Medical Response het in 2009 tot stand gekom en het intussen van krag tot krag gegroei - ‘n ware aanwins vir Gansbaai en omgewing, Pearly Beach, Baardskeerdersbos, Stanford en die plaasgemeenskappe. Etlike suksesvolle noodhulpkursusse is ook reeds deur hulle aangebied. “Ons hele span is opreg dankbaar vir hierdie borgskap en kan nou die probleem met die ander ambulans aanpak,” het Riaan gesê.
Overstrand Medical Response se noodnommer is 078-699-6995, maar vir navrae kan Riaan Buys of Cassie Carstens by 083-363-1881 gesksakel word, of stuur ‘n e-pos aan hulle by overstrandmedics@gmail.com.
Hardus Botha