Soos een man het die sakemense van die Protea Sentrum saamgestaan om hul gelukwense aan Bart van Biljon van Hair @ Bart in hierdie spesiale uitgawe oor te dra, met sy salon se eerste bestaansjaar.
Bart en sy lewensmaat, Henry Coston van Studio on Main, in dieselfde sentrum, vertel dat hul Gansbaai-toe-kommery twee jaar gelede “half toevallig” gebeur het, maar ‘n beter besluit kon hulle nie geneem het nie.
Hulle stem saam dat daar nie ‘n beter en mooier plek as die Overberg is nie en stem volmondig saam dat hulle “in die hemel is” hier.
Hulle onthou dat die koms van die walvisse twee jaar gelede, ‘n bietjie laat was. Met hulle inry in Gansbaai op 1 Junie daardie jaar – ‘n Sondag – het hulle die eerste walvisse van die seisoen gewaar.
Bart is ‘n gebore en getoë Bloemfonteiner en spog met ‘n meesterstoekenning in haarkappery, terwyl Henry meer bekend is vir sy heerlike gebak en onthaalvermoëns. Hy het ‘n koffiehuis bestuur in die mooie dorpie, Loxton, voordat hulle die Gansbaai-stap geneem het.