“Ons is trots om te kan sê ons eerste markdag het baie goed verloop en ons sien nou uit na die tweede een,” sê Angela Caie van Gansbaai Country Market. Sy en Kim Booysens, asook die res van die komitee, voel baie opgewonde oor die markdae wat vir elke eerste Saterdag van die maand by die Saint Peters Church in Kerkstraat 35, Gansbaai vanaf 09:00 tot 13:00 aangebied word.
“Alle produkte is vars en tuisgemaak,” vertel Angela. “Ons bied ook met elke markdag ‘n gratis tafel aan vir liefdadigheidsorganisasies, wat tans deur past Frikkie Zeelie en sy helpers vir pannekoek afgestaan word.” Plaaslike liefdadigheidsorganisasies is welkom om aansoeke vir oorweging by komiteelede in te dien.
Daar is ook ander toegewings aan liefdadigheidsorganisasies, soos om elke paar maande in die winste te deel, met die komitee wat sal besluit hoe om van die winste te verdeel. Gansbaai Courant het tydens die eerste markdag gaan inloer en dit was heel bedrywig.
“Kom maak gerus eerskomende Saterdag, 4 Junie tussen 09:00 en 13:00 ‘n draai by die Saint Peters Church in Kerkstraat 35 en kom geniet tuisgemaakte goedere na hartelus,” is Angela se uitnodiging.
Vir navrae kan Angela Caie by 084-431-9272 gekontak word, of skakel vir Kim Booysens by 071-349-6329. ‘n E-pos kan ook aan gansbaaicountrymarket@gmail.com gestuur word.
Hardus Botha