“Gansbaai Biblioteek neem hierdie jaar deel aan die 67 minute projek wat die Overstrand Munisipaliteit (Gansbaai Administrasie) terugploeg in die gemeenskap,” vertel Edna van der Linde van Gansbaai Biblioteek.
“Omdat ons nie die biblioteek kan sluit en in die gemeenskap buite kan gaan werk nie, het die onderskeie biblioteke in die Overstrand besluit om saam aan een groot uitreikingsprojek te werk.”
Edna sê die 9 biblioteke in die Overstrand beoog om saam 67 komberse (vir die 67 minute) te brei en die blokkies van 20cm by 20cm aan mekaar te werk, wat dan op Mandeladag aan behoeftige mense in ons gemeenskap uitgedeel gaan word. Edna sê ook dat die Overstrandse Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Nicolette Botha-Guthrie die projek ondersteun.
Raadsdame Botha-Guthrie het reeds ‘n ruim skenking van wit en blou wol gemaak wat verteenwoordigend van die Overstrand is.
“Ons benodig dus nou hulp om hierdie blokkies aan mekaar vas te werk,” sê Edna. “Ons nooi die publiek uit om Woensdagoggende vanaf 09:30 by Gansbaai Biblioteek te kom inloer en te kom help om blokkies aan mekaar vas te werk.”
Edna sê hulle wil sowat 150 blokkies van hulle kant af probeer vaswerk en sal hulp in hierdie verband baie waardeer. Edna kan by 028-384-8346 in hierdie verband gekontak word.
Hardus Botha