“Die verskeidenheid van sop, broodjies en sjerrie wat op hierdie koue wintersaand vir my gereël is, was ‘n groot verrassing,” het Riaan Jacobs, voorsitter van Gansbaai Fotografieklub gesê. “Ek moet sê ek was nogal verbaas dat Dorethea skielik daarop aangedring het om vanaand se byeenkoms saam met my by te woon.”
Riaan en sy eggenote, Dorethea was met vakansie weg en hy het die voorafgaande Saterdag, 21 Mei 2016 sy sestigste verjaardag gevier. Veronica du Plessis, sekretaris/tesourier van die klub, het sonder Riaan se medewete die verrassing vir hom gereël. Riaan was ook die aanbieder van tegnieke rakende landskapfotografie tydens die byeenkoms. “Dit is onnodig om fotografie, veral natuurfotografie, te gekompliseerd te maak,” het hy gesê. “Beginners moet nie moedeloos raak oor nuwe digitale kameras se vele verstellings nie, aangesien uitstekende foto’s sonder ingewikkeldhede geneem kan word deur dit eenvoudig op outomaties te hou en foto’s na hartelus te neem.”
Daarna het Riaan etlike aspekte bespreek, soos die bes-moontlike lig, komposisie, sonsondergang en -opkoms, diere (maar ook mense) en veral konsentrasie. Hy het veral groot klem op komposisie geplaas en die volgende wenk verskaf: “Create a more interesting composition. Many photos can be made more interesting not by zooming right in on the subject, but zooming out, or standing further back to capture more of the surroundings.
The important thing is to make sure you use the surroundings to add impact to the picture.” Riaan het enkele voorbeelde genoem en aan die einde van sy aanbieding ook van sy vakansiefoto’s vertoon. Interessante video-clips van professionele fotograwe is ook aan klublede vertoon. Daarna is Riaan se sestigste verjaardag behoorlik met smaaklike sop, broodjies en sjerrie gevier. Gansbaai Fotografieklub se byeenkomste vind op die eerste en derde Maandag om 18:30 te Groeneweide Kwekery plaas.
Vir navrae kan Riaan Jacobs by 082-373-8270 gekontak word, of skakel Veronica du Plessis by 084-826-8781. Verdere inligting kan op die klub se webtuiste, www.gbpc.co.za gekry word.
Hardus Botha