Welbekende egpaar tree saam af

Na vele jare in Gansbaai en in die eiendomsbedryf, het twee bekende inwoners, Neels en Ronel Claassen van Seeff Eiendomme besluit dit is tyd vir hulle om af te tree - “terwyl ons nog kan tree!”

“Ná onlangse ervaringe het ons weer eens besef hoe kosbaar saamweestye as ‘n egpaar is,” vertel Ronel. “Ons belangrikste doelwit is om meer beskikbaar vir ons kinders en kleinkinders te wees, maar ook om ‘n bietjie meer te reis, veral in Suid-Afrika.”

Gedurende 2000 is Ronel genader om ‘n kantoor vir Seeff Eiendomme te open, nadat sy reeds drie jaar in die eiendomsmark betrokke was. Hierdie eenmanskantoor het in die Christosentrum begin en in 2003 het haar man Neels by haar aangesluit.

Na vele suksesvolle jare het Seeff Gansbaai besluit om uit te brei en ‘n groter kantoor in die Great White Junction, met al die moderne tegnologie beskikbaar, te open. Ronel vertel dat Cornie Swart die konsessie gekoop het vir Groter Gansbaai en Hannes Cilliers en Marlene Uys het in 2012 by die span aangesluit.

Nou groet Neels en Ronel om ‘n welverdiende rustydperk te betree om te kan rondreis, tyd aan mekaar te spandeer, maar veral ook aan hulle kinders en kleinkinders.

Hardus Botha

Vlnr is Neels Claassen, Ronel Claassen saam met Samuel Seeff  by die onlangse Country Awards in die Paarl waar Neels en Ronel onder die top 5 agente vir Seeff Platteland in die Wes-Kaap was.
Gansbaai_Courant