“Geduld is die leuse vir die perfekte foto,” was voorsitter Riaan Jacobs se advies tydens ‘n vorige byeenkoms van Gansbaai Fotografie-klub.
Die tema was “see-tonele” en die meegaande seetoneel is ‘n toonbeeld daarvan.
Die klub se onlangse byeenkoms het op praktiese opleiding vir portretfoto’s gefokus.
Robert Johnson, ‘n bekende in die omgewing en ‘n professionele fotograaf, se aanbieding oor portretfoto’s was insiggewend en baie is geleer.
“Kom vir ‘n slag uit jou gemaksone uit en neem foto’s wat jy nog nooit vantevore geneem het nie,” het hy gesê. Met verwysing na portretfoto’s, het Robert enkele misverstande uitgewys, soos dat dit net vir mense is, dat dit net kop-en-skouers moet wees en dat dit net in ‘n studio geneem moet word.
Hy het die teendeel daarvan met illustrasies uitgewys. “Die fokus is gewoonlik op ‘n gesig, maar dit kan die hele liggaam insluit, asook agtergrond,” het hy gesê.
Sy definisie lui soos volg: “Portrait photography or portraiture is photography of a person or group of people that displays the expression, personality, and mood of the subject.”
Enkele belangrike aspekte waarop hy gefokus het, is komposissie, agtergrond, beligting, die derde-reël, fokus op oë en veel meer.
Klublede is huis toe met die opdrag om dit wat hulle van portretfotografie geleer het, in die praktyk te gaan toepas.
Die foto’s sal tydens die volgende byeenkoms vertoon en bespreek word, wat 4 Julie plaasvind.
Navrae kan aan Riaan Jacobs by 082-373-8270 (chairperson@gbpc.co.za) gerig word, of skakel vir Veronica du Plessis by 084-826-8781 (secretary@gbpc.co.za). Die klub se webtuiste is www.gbpc.co.za.