Haar onverpoosde harde werk het onlangs aan Alissa Coetzee (16) van Gansbaai die titel Miss Teen Commonwealth Charity in die Liefdadigheidskategorie besorg. Die funksie het in Pretoria plaasgevind. Sy het uit tien finaliste as die wenner in die kategorie weggestap. “Ons is baie dankbaar om veilig terug te wees en is baie trots op die uitslag van die groot aand,” sê Alissa se ma, Adéle Coetzee. Alissa is ‘n Gr 11 leerder aan Hoërskool Hermanus en is ‘n gebore Gansbaaier. Haar ouers is André en Adéle Coetzee van De Kelders.
Gansbaai Courant (16 Junie 2016) het ‘n berig oor hierdie pragtige jong meisie en haar liefdadigheidswerk geplaas. Sy het ook motiveringspraatjies by Gansbaai se laerskole aangebied. Hierdie kompetisie gee die meisies die geleentheid om hul leierskapeienskappe, modelering en openbare optredes uit te bou en om veral ‘n verskil in hul gemeenskappe te maak.
“Ek wil graag weer eens my opregte dank teenoor die gemeenskap se ondersteuning uitspreek,” sê Alissa. “Ook vir al die geleenthede wat ek gebied is om liefdadigheidswerk te kon doen.” Alissa beplan om aan te hou met haar liefdadigheidswerk om ‘n verskil in haar gemeenskap te maak en ook om ander te motiveer om dieselfde te doen.