Ally Msweli se “Groot Dag” het aangebreek met die amptelike opening van sy eie onderneming in Masakhane, naamlik “Masakhane Township Tours”.
Hy het sy uitgelese groep gaste trots op ‘n verkorte staptoer deur Masakhane se strate geneem en uiters professioneel agtergrondgeskiedenis van Masakhane aan hulle oorgedra. Die toer het die skool, kleuterskool, sportgronde, gemeenskapsaal, Flower Valley se projek en die Herwinningsprojek ingesluit.
‘n Volledige staptoer deur Masakhane sluit ook die “shacks” dieper die woongebied in.
Kat Myburgh (Areabestuurder van die Overstrandse Munisipaliteit se Gansbaai Administrasie) Frieda Lloyd (Bemarkings- en Toerisme Bestuurder: Overstrand Munisipaliteit), Glenda Kitley (Bestuurder: Gansbaai Toerisme) en Brenda du Toit (Voorsitter: Gansbaai Toerisme), asook ander besoekers het die opening bygewoon.
Tafels is netjies gedek en ‘n smaaklike tradisionele middagete is voorgesit.
Ally se eggenote, Vuyokazi Dyanti is sy vennoot in die onderneming en is ook vir die voorbereiding van die etes verantwoordelik.
Hy het sy internskap einde Junie vanjaar by Gansbaai Toerisme voltooi en werk nou onafhanklik van die toerismekantoor, alhoewel daar steeds goeie samewerking met Gansbaai Toerisme is.
Naas sy deeglike opleiding in toerisme by die Gansbaai Toerismekantoor, het Dave Lee hom ook as toergids opgelei.
Hierdie entoesiastiese jongman het ook sy eie Internet kafee op die been gebring, met rekenaartoerusting wat hy self aangekoop het.