Gansbaai Academia se “Marimbas” het al goed naamgemaak, maar op 6 Julie vanjaar het hulle met trotsgeswelde borskaste opgetree.
Tydens die Wes-Kaapse Premier, Helen Zille se besoek aan Gansbaai, is hulle spesiaal gevra om in Grootbos op te tree. Vele hooggeplaastes van die DA, asook ‘n uitgelese groep sakemanne en –vroue van Gansbaai was teenwoordig.
Selfs Premier Zille het die Marimba Orkes se spel en ritme terdeë geniet en selfs bietjie gedans.
Die orkeslede se hoogtepunt van die aand was egter toe sy naderstaan om self die tromstokke op te tel en te speel. Hulle het oorgeloop van gretigheid om haar touwys te maak.
Hulle beskou dit as ‘n groot voorreg dat hulle haar persoonlik kon ontmoet en met haar kon gesels.
Die rede waarom die orkeslede na “’n Eerste” verwys, is nie net omdat die vertoning vir die Premier was nie, maar omdat hulle versoek is om “sag” te speel, wat nogal ‘n aanpassing was.
Elke lid van die orkes bedank graag vir Grootbos vir die uitnodiging, asook hul onderwysers wat vakansietyd opgeoffer het om hulle te vergesel.