Om met veertig diensjare by dieselfde instansie te spog, is nie almal beskore nie. Gansbaai Seevisserye se Senior Visinspekteur, Johnny Robertson (63), kan wel.
‘n Langdienssertifikaat vir sy veertig jare van volgehoue en getroue diens is onlangs aan hom oorhandig - netjies geraam - en dit pryk trots bokant sy lessenaar.
Hy vertel dat hy spesiaal na Nelspruit, Mpumalanga op 14 Julie vanjaar gevlieg is vir die oorhandiging van die sertifikaat tydens ‘n spesiale geleentheid.
Johnny is op 3 Oktober 1975 na Gansbaai verplaas, waar hy steeds werksaam is.
Hy is met Gertram (Girly) getroud en die egpaar het drie dogters, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Hy sê sy grootste dankbaarheid is eerstens teenoor sy Hemelse Vader wat hom oor soveel jare gespaar het. Tweedens is hy vele dank aan sy eggenote verskuldig wat hom oor al die jare heen getrou ondersteun het, ondanks onmoontlike ure wat hy gereeld moes werk.
Johnny beplan om oor twee jaar in die ouderdom van vyf en sestig af te tree, waarna hy drie en veertig diensjare agter die rug sal hê.