Honde sal steeds toegelaat word om op strande te kom, maar hul bewegings sal voortaan meer ingeperk word. Dit moet voldoen aan die munisipaliteit se Verordening op Honde en Katte, asook aan Internasionale Blouvlagvereistes.
Die probleem rakende honde op Overstrand se strande en in openbare ruimtes is al vir baie jare die onderwerp van ’n hewige woordestryd.
Artikel 6(2) en (3) van bogenoemde verordening bepaal egter duidelik en onomwonde: “Geen persoon sal toelaat of veroorsaak dat enige hond ‘n openbare plek betree tensy dit aan ‘n leiband is nie.” Let daarop dat openbare ruimtes enige strand, paadjie, brug, voetpad of tuin insluit, asook enige ander plek wat onder beheer van die munisipaliteit is.
Honde-eienaars wat gebruik maak van Overstrand se strande waaraan Blouvlagstatus verleen is – Grotto, Hawston en Kleinmond – moet die stipulasie nakom wat bepaal dat geen honde op hierdie strande toegelaat sal word terwyl die Blou Vlag gehys is nie.
Blouvlagstatus is ‘n internasionale akkreditasie, en dié program hou vele voordele in: Verbeterde toerismefasiliteite, verbeterde bestuur van kusekostelsels, opvoedkundige bewusmakingsprogramme en uitstekende watergehaltestandaarde en fasiliteite. Hou die groter prentjie in gedagte en help om hierdie status te behou.
Troeteldiereienaars word ook versoek om nie hul honde se mis met sand toe te skop of dit in die see te gooi nie. Daar word van hulle verwag om hul honde se mis op te tel en in die korrekte vullisdromme daarmee weg te doen.
Enige oortredings van die verordening kan gerappor-teer word deur Wetstoe-passing by 028 313 8000 te skakel.