Wanneer mens in ons omgewing woon moet jy dankbaar wees indien jy nog in staat is om die geleenthede wat jou hier gebied word te kan aangryp. En vir iemand wat leef vir die see sal dit prioriteit nommer een wees. ‘n Pensionaris se tyd behoort hoofsaaklik tot homself, en natuurlik, sy gade! Stel jou die volgende situasie voor: Jy het opgehou om te werk (want jy is mos ‘n pensioenaris). Jy besit ‘n boot met sy benodigdhede en dan boonop genoeg gereedskap om rustig van die kant af te hengel. Jy het dus die beste van twee wêrelde -- òf van die boot af met al sy moontlikhede òf “nevermaaind” die weer, gaan hengel rustig met jou lang stok. Somtyds is jou vrou die ideale persoon om jou te vergesel (nie omdat jy dink sy moet nie, maar sy dring dalk daarop aan, want sy wil!). Baie maal is sy die een wat verkies om na die tuin om te sien, en wees dankbaar daarvoor. Dis juis wanneer jy heeldag op see deurgebring het “op soek na ‘n eetvissie”, dat jy die kans kan benut om die dag verder deur te bring in ‘n tuin wat jou siel net goed kan doen. Die ideale plek om met jou goeie vriende en kennisse (en onthou tog jou vrou) in so ‘n mooi en rustige omgewing te ontspan.
Die huis, so naby aan die see, bied jou ook die geleent-heid om die kinders en kleinkinders (dalk nog agterkleinkinders, en so aan…) op so ‘n manier te onthaal dat ook hulle die geleentheid die beste kan gebruik. Jy hoef mos nie hard te werk nie. Waar anders kan jy jou plig so goed uitvoer wanneer jy hierdie klompie wil leer om daardie alledaagse take reg te doen. Goed soos hout aandra, vuurmaak, braai, skottelgoed was, (laat die vrou ‘n dankbare ruskans neem), en sommer so paar ander goed ook. Ai, as jy so kan reël, wat is saliger?
Dis moeilik om weg te kom van die see, want daar is nog baie sulke seëninge wat ook in die prentjie kom.
Wat kan meer genotvol wees as om strandlangs te ry en die dag saam deur te bring -- jammer, ek’s al weer met die see doenig! Kom ons probeer iets anders: Jou vriende.
Beter kan jy nie kry nie en almal saam is mos wat die lewe so uitsonderlik maak. Mens kan net dankbaar wees dat jy wel al hierdie goed kan meemaak. Sê dankie aan Hom. Ons het nog nie eens gekom by al die besiens-waardighede nie. Met so ‘n omgewing is die keuses eindeloos. Weer by die see -- wat van die sonsondergange. Dít is nooit dieselfde nie!
My spasie is op, maar gee jou gedagtes vrye teuels.
Beste groete,
Seemeeu