Die belowende twintigjarige balletdanser, Allice le Roux oor wie die Gansbaai Courant onlangs berig het, tree Mei-maand in Hermanus op as deel van ’n opvoering deur die bekende Joburg Ballet. Hierdie nuus sorg vir groot opwinding onder balletliefhebbers, veral vir haar grootouers, Hardus en Anita Botha, van Gansbaai. Hardus is ook ‘n verslaggewer by die Gansbaai Courant.
'n Meestersklas wat die vertonings vooraf gaan, is vir Woensdag, 3 Mei geskeduleer. Donderdag (4 Mei) se kleedrepetisie is deel van 'n uitreikprogram aan minderbevoorregte gemeenskappe in die Overstrand.
Die balletgeselskap tree in die NG Kerk Onrus, op. Die vertonings word ingewei met ‘n Gala-uitvoering op 5 Mei, gevolg deur twee uitvoerings wat Saterdag, 6 Mei sal plaasvind.
Joburg Ballet se optrede in Hermanus is die inisiatief van Pat van Schoor van SANTA in Hermanus.
“Baie moeite is gedoen om hierdie optrede vir ‘n goeie doel te laat realiseer,” het Pat gesê. “Alle winste is ten bate van SANTA Hermanus se pasiënte in die Overstrand wat tuberkulose onder lede het.
Fondse sal aangewend word vir die behandeling daarvan, asook om hierdie uiters aansteeklike siekte te bestry.”
Die uitvoerings sal gewilde ballet-hoogtepunte insluit, soos Die sterwende swaan, La fille mal gardée, La Traviatra en Esmeralda, asook hedendaagse werke deur Suid-Afrikaanse choreograwe.
‘n Verskeidenheid van style tydens die uitvoerings kan dus verwag word.