Eddie Barnard se Bietoubosharem

Eddie Barnard se Bietoubosharem

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Eddie Barnard, Gansbaai se “One Man Band”, het Dinsdag, 11 April sy eie “Bietoubosharem” gehad om op maat van sy musiek te vermaak.

Die vrolike samekoms was die Bietoubos Damesklub se maandbyeenkoms in die NGK se Kleinsaaltjie.

Eddie is al ‘n “ou haan” onder die Bietoubossers, ‘n klub wat bestaan uit vroue van De Kelders, Perlemoenbaai en Gansbaai.

Hierdie keer het dit egter behoorlik na ‘n “persoonlike” harem gelyk met die sowat 40 pragtige vroue wat opgedaag het. Drie kleindogters het ook die byeenkoms saam met hul oumas bygewoon.

Hoewel alles op die oog af vrolik was, met ‘n saal in pienk getooi, was die tema van die dag van ‘n ernstige aard: hoe om die tyding van kanker te hanteer by jouself of iemand na aan jou.

Meer bekend vir haar rol as die koorbegeleier van die NG Kerk, was Annelene Reinke van Pearly Beach die aangewese persoon om oor dié onderwerp te praat nadat sy  vir etlike jare met kanker saam geleef en oorkom het. Sy is ook ‘n aktiewe vrywillige werker van Hospice.

“By die aanhoor van die tyding dat jy kanker onder lede het, verander jou gedagtes impulsief,” het Annalene gesê. “Jou eerste gedagtes word deur lyding, dood en jou finansies oorheers. Daarna dink jy aan hoe dit jou naasbestaandes en ook jou voorkoms gaan beïnvloed.”

Annalene het vertel dat ‘n warboel van emosies  opduik: skok, ontkenning, angstigheid, woede, depressie en veel meer. “Hierdie warboel van emosies word ook deur jou ondersteuningsnetwerk, begrip van die siekte en sosiale druk beïnvloed.”

Vandag het pasiënte meer deel aan die beplanning van spesifieke behandelingsmetodes, soos onder andere, wat die behandelingspatroon  inhou.

Sy het ook na vele aanpassings in hierdie verband verwys: gevoelens van hartseer, moegheid - fisies en sielkundig, konsentrasieprobleme, slaperigheid of slaaploosheid, verlies aan eetlus en gevolglike gewigsverlies, rusteloosheid, geïrriteerdheid en vele ander emosies.

“Eie navorsing oor kanker en die gevolge en behandeling daarvan, kan help om angstigheid te verlig. Konsentreer op die dinge wat jy wel kan beheer en pas jou dieet aan,” het Annelene gesê. “Kyk ook na jou liggaam en probeer om fisies aktief binne jou vermoeëns te bly.”

Op die vraag hoe buitestaanders teenoor kankerlyers behoort op te tree, was haar antwoord eenvoudig: “Wees net daar vir ondersteuning en tree verder normaal op sonder om emosioneel te raak. Bied vervoer aan, rig uitnodigings vir tee/koffie- of uiteetgeleenthede.”

Elke individu hanteer sy/haar siektetoestand uiteenlopend: Sommige onttrek hulself aan die samelewing, terwyl ander weer graag hul gevoelens met andere deel. Wat egter van groot belang is, is om elke individu se hantering van kanker te respekteer. Indien ‘n kankerlyer nie daaroor wil praat nie, verskaf net stil ondersteuning. Wanneer ‘n persoon wel wil praat, wees dan net ‘n goeie luisteraar.

“My finale raad aan julle is om te sorg dat jy jou liggaam ken en indien enigiets vreemd voorkom, moenie huiwer om jou geneesheer te raadpleeg nie – eerder te vroeg as te laat.”

Na die ernstige en relevante praatjie deur Annalene, kon Eddie voortgaan met sy musiek soos net hy dit kan doen – met sy Bietoubosharem wat ‘n bietjie hul lywe rondgeswaai het op maat van sy musiek.

Dit was ‘n gesellige oggend met Aletta Lochner en Marie de Jager aan die stuur van sake.  Hul gaste het ook hartlik saam gesing, en speletjies gespeel.

Eddie Barnard se Bietoubosharem

Gansbaai Courant

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Florilegium Developing Story

Florilegium Developing Story

These images tell a story that we plan to share using botanical art.

Grootbos Foundation
Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Overstrand Tourism Diary: 22 - 27 April 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary!

Gansbaai Tourism
Gans-Berg News - 24 April 2026

Gans-Berg News - 24 April 2026

This week’s edition of Gans-Berg News brings you the stories shaping our community.

Gans-Berg Nuus / News
Rescue on the Move

Rescue on the Move

Every rescue begins with a journey.

BARC Animal Welfare
Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Grootbos Foundation Conservation Volunteer Experience

Volunteer Hamish Philipson has been with the Grootbos Foundation for the past two weeks to learn more about the work of the Grootbos Foundation.

Grootbos Foundation
When Inner Worth Meets Outer Reality

When Inner Worth Meets Outer Reality

It is about the gap between what we expect externally…

See All Articles