Blitsige Renjaer van De Kelders
-Deon Conradie-
Die bekende Killarney International Raceway, wat deur die Western Province Motor Club bedryf word, is in Koeberg, Kaapstad geleë - dít is waar De Kelders se Blitsige Renjaer, Deon Conradie vir die afgelope 10 jaar al groot hoogtes met sy Toyota Conquest bereik het - en ook die ontvanger was, en steeds is, van baie trofeë.
“In 1968, toe ek in Std 3 (Gr 5) was, het ek vir die eerste keer saam met my oom na wedrenne op die Killarney-baan gaan kyk,” vertel Deon. “Later het ek en ‘n paar vriende bykans permanent daarheen gegaan.” Wanneer daar nie vervoer vir hulle was nie, het hulle die sowat 10km per fiets afgelê, dus het die gogga hom sommer van kleins af gebyt en nooit weer gelos nie!
Na Deon se verpligte militêrediens was hy vir 7 jaar by Killarney-wedrenne betrokke. Daarna het hy vir 20 jaar nie aan wedrenne deelgeneem nie. Eers later het hy weer begin deelneem met ‘n motor wat hy self uit twee motors opgebou het, sy spoggerige, blink-wit Toyota Conquest. “Ek is baie lief vir motors en is nie bang om met my hande te werk nie,” vertel hy.
Stap mens by die Conradie’s se woning in, is dit net foto’s (natuurlik hoofsaaklik Toyota’s!) en trofeë waar jy kyk. Die res van die trofeë, hoofsaaklik Klas-oorwinnigs, staan in groot rakke vol in die motorhuis. Van die belangrikste trofeë is onder andere: 2019 - 2de Algehele Kampioen, asook 2de in Klas C; 2020 is as gevolg van Covid oorgeslaan; 2021 en 2022 - 1ste as Klas C Kampioen in altwee seisoene; 2023 - 2de in Klas C. Dis maar net enkele belangrikstes - om na al sy trofeë te verwys, sal bladsye verg.
Daar is ‘n verskeidenheid van kategorieë en sub-kategorieë waaraan die renjaers deelneem. Onder andere die Classic Motors, wat in twee kategorieë verdeel is: motors wat vóór 1980 vervaardig is en motors wat vóór 1990 vervaardig is - hierdie is die kategorie waaraan Deon deelneem. Vanjaar is die 10de jaar wat hy met dieselfde motor in dieselfde Klas deelneem.
Dan is daar nog verskillende Klasse en Tydgleuwe ook. “Dit maak byvoorbeeld nie saak wie wen en wie verloor nie - jy wen of verloor in jou eie tydgleuf,” vertel Deon. Daar is 5 Klasse, vanaf Klas A tot by Klas E en die punte word oor ‘n seisoen bereken. So kan ‘n Klas E byvoorbeeld die Algemene Wenner wees. Deon sê hy verkies Klas C waar daar sowat 10 deelnemende motors is, aangesien dit die mees kompeterende Klas is om aan deel te neem. Die spoed wat op die langste pylvlak in Klas C behaal word, is sowat 190 km/uur. Gevaarlik? “Nee-wat,” sê Deon, “Ons paaie met busse, taxi’s, dronkbestuur en dies meer is baie gevaarliker as ons wedrenne.”
Tydens wedrenne word die kwalifiserende rondtes op ‘n Vrydag gery om die wegspringplekke vir die Saterdag se wedren te bepaal. Die Saterdag se wedren bestaan uit 2 wedrenne met 8 rondtes elk. Die baan is 3.2km lank. Die naweek kompetisies vind maandeliks oor 8 byeenkomste plaas (Februarie - November). Dus is daar 16 wedrenne, waarvoor trofeë ook oorhandig word, wat vir die finale kampioenskap in November in aanmerking kom. Aan die einde van die seisoen is daar dus ‘n Algehele Kampioen (1ste, 2de en 3de plek), asook ‘n Klaskampioen (1ste, 2de en 3de plek).
Deon het in Goodwood en later in Durbanville grootgeword en is later met Maralize in die huwelik bevestig. Hy beskik oor ‘n B.Com graad met Bedryfsielkunde as Honneursvak. Oor jare heen, en steeds, is hy as konsultant by besighede betrokke, nadat hy sowat 18 jaar by Spoornet, nou Transnet, gewerk het.
Getrou aan sy liefde vir motors, is Deon ook ‘n versamelaar van modelmotortjies - ‘n hoë, staande glaskas vol daarvan, met die eerste paar rakke vanselfsprekend net Toyota-modelle! Hy en sy eggenote, Maralize is ook sedert vanjaar entoesiastiese lede van Gansbaai Pistoolklub. Die Gans-Berg Nuus sien daarna uit om teen die einde van November 2024 weer met Deon te gesels om te verneem hoe die 2024-seisoen vir hom afgeloop het.