Franskraal Rolbalklub: Gewilde Spar-Rolbaldag
Die jaarlikse Spar-Rolbaldag was die eerste geborgde rolbaldag wat Franskraal Rolbalklub jare gelede begin aanbied het. “Gansbaai Superspar borg reeds vir baie jare die gewilde Walvis Classic, wat ongelukkig nie in 2023 kon plaasvind as gevolg van baanprobleme,” vertel Kokkie de Kock, President van Franskraal Rolbalklub. “Ons is dankbaar dat Gansbaai Superspar ons met ‘n ‘All Day’ opedag-borgskap tegemoet gekom het.” Kokkie sê die belangstelling was oorweldigend en dit was ‘n ‘fullhouse’ met 24 inskrywings.
5 spanne van L’Agulhas, 2 van Kleinmond, 5 van Bonnievale en 12 van Franskraal het ingeskryf, met al die spelers wat die klub goed ondersteun het. “Die dames in die kombuis en ons kroegman het hulself goed van hul taak gekwyt,” sê Kokkie. “Die kompetisie was ‘n groot sukses, waarvoor ons oneindig dankbaar is.”
Die 1ste plek is deur ‘n Kleinmondspan ingepalm, 2de was een van L’Agulhas se spanne en 3de ‘n Franskraalspan - baie geluk aan hierdie drie rolbalspanne! Daar was weer ‘n hamper op die spel by die alombekende Spinwiel van die klub, wat deur Lorette Sieg gewen is.