Gansbaai Lions Versprei Vreugde aan Kleuters
Gansbaai Lions...
kleuters deel opgewonde drukkies uit.
Gansbaai Lions se Lion Ogilvie en Lion Marietta Hatting het op Vrydag, 19 April 2024 sagte speelgoed aan die kleuters van Elim Dagsorg in Gansbaai en Seesterretjies Creché in Buffeljachts uitgedeel - die kleuters was só opgewonde dat spontane drukkies van dankbaarheid aan die weldoeners uitgedeel is.
By Elim Dagsorg moes een van die versorgers wat aan diens was, Thumie, seker maak sy hou ‘n wakende ogie oor die opgewonde kinders. Sy het ook namens die kleingoed die sentrum se waardering aan die besoekers uitgespreek.
Vandaar is die groep na Seesterretjies Creché in Buffeljachts waar eweneens opgewonde kleuters met groot, blink oë die aflaai van speelgoed fyn dopgehou het. Die blydskap oor die ‘scootertjies’ en groot balle was so erg dat die personeel, Nicole, Amelda en Actule vir die vale moes bontstaan of die kleingoed ‘jaag’ by die klaskamer uit, waar hulle oor die trappie kon struikel.
Elke kleuter het ‘n sagte speelding ontvang wat hulle huis toe kon neem. Die scooters en balle bly egter in die creché en word nie saam huis toe gestuur nie - dit sal verseker dat toekomstige skoolbywoning 100% sal wees! Gansbaai Lions bedank graag die motorfietsklubs wat die speelgoed tydens die laaste ‘Toy Run’ ingesamel het om dit aan diensorganisasies te skenk om dit na goeddunke uit te deel.