Blompark Benodig Dringend Hulp Vir 2 Sentrums
“Ons as gemeenskap van Blompark het u hulp dringend nodig vir ons twee sentrums vir bejaardes,” sê Roger Brett, voorsitter van die Beheerraad: Silwerjare Dienssentrum en Oak Grove Sorgsentrum.
Rodger verwys na die twee bekende sentrums vir Bejaardes in Blompark: Silwerjare Dienssentrum (NPO 020-369) en Oak Grove Sorgsentrum (NPO 302-412). “Silwerjare Dienssentrum is ons sentrum waar ouer persone drie dae per week bymekaar kom om aktiwiteite te doen en ‘n warm bord kos te geniet,” verduidelik hy. “Oak Grove Sorgsentrum is waar 14 ouer persone permanent woon en na omgesien en gevoed moet word.”
Met verwysing na kostes, sê Rodger dat hulle uitgawes per maand, om die twee sentrums in stand te hou, ongeveer R35 000 per maand beloop. Dit bestaan uit salarisse (minimaal) vir 5 persone, munisipale rekening, kosaankope en versekering. Dan is daar nog gas en instandhoudingskostes wat nie hierby ingesluit is nie. “Ons staatsubsidie is vanaf R10 200 na R6 000 per maand gesnoei,” vertel hy.
Rodger, die bestuur en bejaardes doen ‘n beroep op die ondersteuning van individue en sakelui in die vorm van finansies of voedselvoorrade. Persone wat finansiële bydraes wil maak, kan dit by die volgende rekening inbetaal:
Absa Bank (tjek rekening); Rekeningnommer 4050280424.
Vir enige ander navrae en/of donasies kan Roger Brett by 067 090 8379 gekontak word, of stuur ‘n epos aan hom by rbred@justice.gov.za.
‘n Volledige berig oor Meals on Wheels wat op Sondag, 5 Mei 2024 by Silwerjare Dienssentrum besoek afgelê het, sal in die volgende uitgawe van die Gans-Berg Nuus gepubliseer word. Die besoek het saamgeval met ‘n groot byeenkoms wat deur past Peter Fouldien gereël is.
Hardus Botha
Foto: Rodger Brett tydens Meals on Wheels se besoek aan die sentrums.