Onrusbarende Afname in Afrika Pikkewyngetalle
Die media het die afgelope tyd ernstige aandag aan die Afrika-pikkewyn se kwynende getalle geskenk - ‘n onrusbarende verskynsel. Die Gans-Berg Nuus het by Wilfred Chivell en Christine Wessels van Dyer Eiland Bewaringstrust vir kommentaar gaan aanklop.
Negentig voëls wat drie dekades lank per week verloor is, het daartoe gelei dat die Afrika-pikkewyn, Suid-Afrika se enigste pikkewynspesie, as BEDREIG geklassifiseer is. Van 'n bevolking van meer as ‘n miljoen in die 1920’s tot slegs 10 400 broeipare wat vanaf 2022 in Suid-Afrika oorgebly het, kan veroorsaak dat die Afrika-pikkewyn voor 2030 kan uitsterf. Van die eens florerende kolonie met 25 000 broeipare in die 70's op Dyer Eiland, is daar nou ongeveer 1 000 broeipare oor - dit is hier waar die African Penguin and Seabird Sanctuary (APSS) ‘n enorme rol speel om die situasie te probeer beredder.
Raadslid James Vos, MMC vir Ekonomiese Groei en Toerisme by die Stad Kaapstad, het die African Penguin and Seabird Sanctuary(APSS) in Kleinbaai onlangs besoek, gevolg deur ‘n pikkewynvrylatings-seremonie naby Dyer Eiland. “Dit was ‘n onvergeetlike oomblik saam met die ongelooflike span van Marine Dynamics toe ons gerehabiliteerde Afrika Pikkewyne vir hul eerste swem in die see vrygelaat het,” het Raadslid Vos gesê. Die ernstige kommer oor die bedreigde Afrika-pikkewyne is met Raadslid Vos en sy gesin tydens hulle besoek aan die APSS gedeel. Die gesin het ook by die Marine Dynamics-span aangesluit om op Vrydag, 28 Junie 2024 vier jong Afrika pikkewyne naby hul tuiskolonie op Dyer Eiland vry te laat.
Waarom die onrusbarende afname in getalle? Gedurende die afgelope paar eeue het pikkewyngetalle aansienlik gewissel, hoofsaaklik as gevolg van menslike inmenging. Reeds in die 16de eeu het skepe wat verby Suid-Afrika op pad na Indië gevaar, met pikkewyne wat as vleis gebruik is. Pikkewyn-eiers is ook versamel en later is selfs hulle vet en karkasse as brandstof vir skepe se ketels gebruik.
Dan was daar die jare die guano op die eilande vir kunsmis gebruik is. Vanaf die middel van die 19de eeu is vir ongeveer 150 jaar lank sowat 200 000 ton guano van die Suid-Afrikaanse eilande verwyder. Pikkewyne het hierdie materiaal nodig om te grawe en hul gate te maak, wat hulle skuiling bied teen die Suid-Afrikaanse son en roofdiere. Pikkewyneiers ook as ‘n algemene maaltyd vir guano-skrapers en ander werkers op die eilande gebruik en is later selfs uitgevoer. Daar word geskat dat tussen 1900 en 1930 sowat 13 miljoen eiers net aan die Weskus van Dassen-eiland versamel is. As gevolg van hierdie situasie het pikkewyngetalle gedurende die 20ste eeu met 90% afgeneem.
Die Dyer Eiland Bewaringstrust het sedert die jaar 2000 met effektiewe bewaringsmetode begin om die pikkewyne van uitwissing te red. Onder andere is unieke neste gebou wat genoegsame beskerming bied en in 2015 is die APSS geopen wat sorg vir die noodsaaklike versorging van siek of beseerde pikkewyne en seevoëls.
Die voortbestaan en bedryf van die APSS is in geheel afhanklik van skenkings. Alle ondersteuning ten opsigte van besoeke, skenkings en tyd is van onskatbare waarde vir die suksesvolle bedryf daarvan en terselfdertyd vir die bewaring van die Afrika pikkewyn - ou handdoeke en koerante word ook deurlopend benodig, asook ‘n sterk basis van vrywilligers. Besoek gerus die APSS in Kleinbaai, of die span deskundiges van die Dyer Eiland Bewaringstrust in die Great White House om uit te vind wat gedoen kan word om by die bewaring van ons seevoëls en Afrika pikkewyne betrokke te raak.
Hardus Botha