Wes-Kaap Triomfeer in Skaaktoernooi
Die Wes-Kaapse skaakspan het ses goue medaljes, een silwer en ses brons in die 14 ouderdomsafdelings gewen. Die span het ook die posisie as die Top-skaakprovinsie in Suid-Afrika ingeneem deur 470.5 punte te behaal. Gauteng was tweede met 424.5 punte en die Oos-Kaap derde met 414.5 punte. Die Mzansi Inter-provinsiale Skaakkampioenskap van 2024 het in Polokwane in Limpopo vanaf 15-19 Desember 2024 plaasgevind.
Die Wes-Kaapse span wat aan die toernooi deelgeneem het, het uit 150 lede bestaan - dit was ook die eerste Wes-Kaapse skaakspan wat volledige Wes-Kaapse kleure vanaf die Wes-Kaapse Sportfederasie ontvang het. Die Wes-Kaapse skaakspan het vroeër vanjaar die Winterspele gewen en het hulself nou as die Top-Jeug-Skaakprovinsie bewys. Die bestuurder van die Wes-Kaapse span, Freek Geyser, het die sukses toegeskryf aan die eenheid binne die span, die veerkragtigheid van die spelers en die onsersteuning van die ouers en afrigters.
Laerskool Gansbaai (LSG)
LSG was by bogenoemde prestasies ingesluit - hulle het nie op hul louere gerus nie en kan met reg trots voel op hul eie prestasies! Die 0/8 Wes-Kaapse span het goud verower, met LSG se Rossouw Coetzer en Lihan Lourens wat in dié span was. Die 0/12 Wes-Kaapse meisiespan het ook goud verower, met LSG se Anneke du Preez wat in dié span was. Die 0/12 Wes-Kaapse seunsspan het brons verower, met Hanro Coetzer en Heinrich Buhr van LSG wat in dié span was. Die 0/14-Wes-Kaapse meisiespan het ook goud verower, met Luandi van der Linde, Danielle Stevens en Alet du Preez van LSG wat in dié span was.
Algeheel het Danielle Stevens ‘n 3de plek verower, Rossouw Coetzer ‘n 9de plek, Hanro Coetzer ‘n 9de plek, Anneke du Preez ‘n 10de plek en Luandi van der Linde ‘n 10de plek - elkeen in hulle onderskeie ouderdomsgroepe. Hiermee ook die Gans-Berg Nuus se gelukwense aan LSG se skaakspelers!
Hardus Botha