Die veragte Samaritaan

Skriflesing: Lukas 10 vers 25 vv.

Teks: “en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry” (vers 33).

OV: “en toe hy hom sien, innig jammer gevoel”;

LB: “toe hy hom sien, het hy hom in sy hart jammer gekry”;

Ander vertaling: “en toe hy hom sien, het hy met hom medelye gehad”;

Eng: “and when he saw him, he had compassion on him”.

Eng: “and when he saw him, he was moved to pity”;

Eng: “and when he saw him, his heart churned within him: he was sirred; he was troubled”;

Letterlike vertaling: “en toe hy hom sien, het sy ingewande in hom in beroering gekom;

het sy ingewande opgeruk …”.

Aantekening: Hierdie woorde – uit Jesus se vertelling van ‘n gelykenis aan ‘n Joodse wetgeleerde – is van toepassing op ‘n Samaritaan. Dit is ‘n Samaritaan wat op daardie Jerigo-pad die noodlydende man langs die pad gesien lê het, hom innig jammer gekry het ( en hom te hulp gekom het) – hy, die Samaritaan wat in Jesus se gelykenis in teenstelling, in kontras,  met die Joodse priester en die Joodse leviet geplaas word. In teenstelling met hulle, die Joodse priester en die Joodse leviet, wat op die Jerigo-pad ook by die man langs die pad verbygekom het, hom  gesien het, maar  “vêr langs verby gegaan” het (letterlik: na die oorkant van die pad geskuif het en weggeloop het). By hulle, die Joodse priester en Leviet, was daar nie hierdie innige jammerkry  wat die Samaritaan sou ervaar in aanskoue van die man langs die pad nie.      

(Die Samaritaan was in Jesus se tyd deur die Jood verag. Vir die Jood was die Samaritaan die heel beste definisie van ‘n “heiden” –  eerste, heel bo-aan die lys van hulle wat onrein is in die oë van God. Die Samaritaan was gereken as “die verste van God af”; die “verste aan die verkeerde kant van God”.  

Die Samaritaan was gereken as die laaste van almal wie dit gedink kon word dat hy iemand kon wees of iets kon doen wat vir God kon verheerlik).

Geliefde gemeente, ek wil vanoggend ‘n paar stellings maak, en dan ‘n paar gebede vir ons voorlees, en afsluit.  

Die stellings wat ek wil maak:

Een: Dit is onmoontlik om aan die groot gebod  van die christelike lewe gehoorsaam te kan wees, sonder hierdie innige jammerte vir ‘n behoeftige, noodlydende mens.   

Sonder hierdie innige jammerte vir ‘n behoeftige, noodlydende mens, is die soort liefde waartoe die groot gebod van die christelike lewe ons oproep, onmoontlik.

Twee: Die soort liefde waartoe die groot gebod van die christelike lewe ons oproep, word slegs moontlik as as ons tot egte empatie in staat is:        

Empatie wat beteken: om myself in die posisie van ‘n ander mens te kan stel, te kan indink, te kan verbeel; om myself in die skoene van ‘n ander mens te kan verplaas; om in die vel van ‘n ander mens te kan inklim; om myself in die aangesig van ‘n ander te kan sien/spieël  … 

Empatie wat ten minste beteken dat ek vir myself hierdie vraag kan afvra in aanskoue van, in ontmoeting met ‘n ander mens: as daardie mens ek was, as ek daardie mens was, wat sou my nood en my behoeftes  wees? 

Drie: Om egte empatie met ‘n ander mens te kan hê, moet ek daardie ander mens as ‘n ewemens kan sien en as ‘n ewemens te kan respekteer … ten spyte van al die moontlike  verskille tussen ons … verskille soos in terme van klas en ras.

Ons gedeelde, deelgenootskaplike menswees.   

Ek moet aan daardie mens as mens ‘n waarde (waardigheid; “dignity”)  kan toeken wat ek aan myself as mens toeken.

Vier: Waar ek in staat is om egte empatie met ‘n ander te kan hê, sal daardie liefde wat deur die groot gebod van die christelike lewe gevra word, in my hart verwek word - daardie liefde wat voortvloei vanuit ‘n innige jammerte vir noodlydende, behoeftige mense wat my pad kruis. .  

Die gebede -

 The view from the gutter

Lord God, I was so deeply disappointed and disturbed when the priest came – and simply passed … and the leviete came and passed …

I heard this mocking voice: “and where, where is your God now?’ …

But then: when the Samaritan came … !

O, he came - he’d come to me …   

You’d come to me …

Lord, God, You’d come to me …

You did not fail me. . .

Here, open tog my oë

dat ek die nood van my naaste sal sien.

Maak oop my ore sodat ek hulle snikke sal hoor.

Maak oop my hart sodat daar vir die hulpelose

Iemand sal wees wat sal help.

Ja, Here, open my oë en my ore en my hart

sodat ek vandag ‘n klein bietjie sal meewerk

aan U vrede, U shalom, op aarde. 

Here, ek het honger -

gee my iemand wat honger is om te voed.

Here, ek is dors -

gee my water om ander dorstiges mee te laaf.

Here, ek is hartseer -

wys my wie se droefheid ek kan verlig.

Here, ek is belas -

lê my naaste se laste op my hart.

Here, ek het behoefte aan ‘n tere vriend -

laat my liefde gee aan iemand wat ook na liefde smag.

Here Jesus, laat U genade my genadiger maak teenoor ander;

laat U liefde my meer liefdevol laat optreë;

mag U vrede my inspirer om vredemaker te wees;

mag U krag my bemagtig om die magteloses te help;

mag U oorvloed my inspirer om die armes en die lydendes te versorg;

mag U liefdevolle teenwoordigheid my dring om hulle wat eensaam is, te besoek.

Here,

ek bid dat U vandag hulle wat swaarkry sal help;

hulle wat geval het, sal ophelp;

hulle wat in nood verkeer, sal verlos van hul ellende;

ek bid dat U die wat siek is, sal genees;

ek vra dat U die hongeres sal voed, die swakkes sal versterk;

die wat moed verloor het, ‘n nuwe visie sal gee…

Maar Here,

terwyl ek vra dat U hierdie dinge sal doen, 

besef ek dat U gekies het om dit deur my te doen …

Here Jesus,

Skyn vandag in my hart en in my lewe.

Laat my U lig weerkaats.

Laat iemand wat U nie as Here en Verlosser ken nie,

vandag in my teenwoordigheid

aangeraak sal word deur die glans van U liefde

wat deur my na hom of haar skyn …

Dankie dat U my sondeskuld op U geneem het -

dit gee my vrymoedigheid om,

hoewel my aard nog sondig is, vir U ‘n lig te wees.

Herinner my vandag in al my verhoudinge aan U opdrag:

“Doen aan ‘n ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen”.

Here,

daardie Samaritaan in die gelykenis

wat daardie grens kon oorsteek – en ‘n hom oor ‘n  Jood kon ontferm! 

Hoe nodig het ons wêreld sulke Samaritane!

Here Jesus, gee vir ons daardie soort hart, 

daardie soort liefde,

wat ons nie uit onsself het nie.

(Franciscus se gebed) (ons lied in ons liedboek .. 284)

Here, maak my ‘n instrument van U vrede.

Waar daar haat is, laat my liefde saai;

waar mense seergekry het, waar daar oortreding was,

help my om vergifnis te bewerk;

waar daar twyfel is, laat my sekerheid bring;

waar daar wanhoop is, hoop;

waar daar donkerheid is, lig;

waar daar hartseer is, vreugde.

O Heilige Meester,

Gee dat ek nie soseer sal soek

om vertroos te word nie, maar om ander te troos;

om begryp te word nie, maar om ander te prober verstaan;

om bemin te word nie, maar om liefde te gee;

Want dit is alleen wanneer ons gee dat ons ontvang;

dit is wanneer ons self vergewe dat ons ander se vergifnis kan aanvaar;

dit is alleen wanneer ons sterwe aan onsself dat ons gebore word tot die ewige lewe.

Afsluiting: Die gelykenis van die (veragte) barmhartige Samaritaan soos Jesus dit destyds vertel het, was ten diepste ‘n stuk onderrig in teologie: die gelykenis wou ten diepste die vraag beantwoord: wie is God ?; hoe is God?; wat is die (ware) karakter van God?; hoe lyk die hart van God?  

Die twee vrae van die wetgeleerde aan Jesus – wat Jesus dan met die vertel van die gelykenis aanspreek – was ten diepste teologiese vrae: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?; Wie is my naaste?        

Wat merkwaardig is van die gelykenis, is dat Jesus die Samaritaan se optrede beskryf met Ou Testamentiese teologie: die Samaritaan in die gelykenis doen dit wat aan God toegeskryf word in die Ou Testament:   

die God wat by die behoeftige, noodlydende verbykom – en raaksien (Esegiel); die God wat innig jammer kry (wie se ingewande in beroering kom by die aanskoue van menslike lyding) (Jeremia); die God wat die wonde verbind (Hosea; Psalm 147).

Verlede Sondag by die nagmaalstafel – waar ons as christengelowiges saamwas – het ons die boodskap verneem:

Wees barmhartig, want God is barmhartig.

Vir vanoggend: dit is die God aan wie ons behoort; die God in wie se arms Jesus Christus ons ingebring het … ons God, die Groot Barmhartige.

Dit is juis danksy Sy groot barmhartigheid dat ons aan Hom behoort.