Karre met agendas

Voertuie is seuns se speelgoed, maar in die adolessensie-jare wanneer hormone aan die baklei gaan om hulle lê in jou lyf te kry, is daar ‘n fase wanneer die manlike hormone hoogty in ‘n meisielyf vier. Dis dan wanneer ons ook skielik bewus raak van karre. Nie soseer vir wat onder die enjinkap aangaan nie, maar vir die estetiese waarde daarvan.

Daardie tyd in my lewe was die era van vinnige en sterk motors. In die Chevrolet-kamp was daar die Corvette en Camaro en in die Ford-kamp die Capri en Mustang, terwyl die Rambler Hornet ook vir ‘n rukkie buiteperd gespeel het.  Ek kon  nooit veel erg kry aan die kleiner Datsun SSS en Toyota MkII nie. Alhoewel hulle goed kon wind sny, was hulle te klein om indrukwekkend te vertoon op my oog.

Elke lysie het maar sy prysie; dit het ek meer as een keer agtergekom in my beheptheid met karre. Alles te wyte aan my onnosel-onskuldigheid waarmee ek van my dorpie af Kaap toe getrek het.

In die voorportaal van die hostel waar ek vir die eerste twee jaar gewoon het, loop ek een aand ‘n bekende gesig raak. ‘n Gansbaaier wat ek van laerskool af onthou as ‘n boesemvriend van my neefs. Hy was baie ouer as ek, maar omdat ons mekaar herken, begin ons gesels. In die gesprek kom dit uit dat hy ‘n Chev Camaro ry.  My oe’s en aa’s moes hom seker maar noop om my te nooi om ‘n draai  te gaan ry.

Ons vlieg brullend van Bellville af Stad toe en terug. Regoor Karl Bremer vlieg ons bo-oor die middelmannetjie en aankomende verkeer se rybaan  tot in die parkeerarea bokant die hospitaal. Ek kry te doen met ‘n amoreuse Camaro-eienaar. Soveel so dat ek die deur ooppluk die oomblik toe ‘n Polisie vangwa op patrollie sy ligte oor ons gooi. Met ‘n tien minute waarskuwing om my by die hostel te besorg, is hulle vort.  Ek moet toegee, daardie laaste entjie was meer opwindend as die baanrondte wat ek saam met ‘n renjaer op Killarney onderneem het!

Nie baie lank daarna nie, trap ek amper ‘n soortgelyke stel af met nog ‘n Gansbaaier, hierdie keer in ‘n Mustang Mach II. Hy weer, ry met  my in Kaapse gopse waar ek nog nooit was nie. Op pad na sy niggie se woonstel waar ons die nag gaan slaap. Verbeel jou!  By ‘n oorgeslane treinspoorhek, spring ek uit. Hy erken ewe ordentlik hy het ‘n kans gevat en na ‘n melkskommel by ‘n padkafee besorg hy my terug. Hy is so apologeties ordentlik dat ek hom moet aanpraat om die Mustang die laaste entjie goed gas te gee.

Die Rambler Hornet was nooit eintlik ‘n motor met ‘n onthouwaarde  nie, maar toe hulle die strate gevat het, was hulle nogal aanskoulik van bou. So ook was die versekeringsagent-eienaar van die oranje Hornet met die swart vinielkap wat een aand aan ons woonsteldeur kom klop het. Pure Skandinawiër met blonde hare en donkerbruin oë. Hy kon darem vir my vier huismaats aansoekvorms invul, maar ek was op daardie stadium aan’t spaar vir ‘n bootrit.

‘n Week later nooi hy my om te gaan koffie drink. Dit ruik na nuwe leer terwyl die ses silinders krag pomp onder die enjinkap.  Die pad wat ons ry is geen koffiepad nie, want dit raak al donkerder en die huise al minder, totdat hy die kar in ‘n teerstraat van ‘n nog onbeboude nuwe uitbreiding tot stilstand bring.

Paniek is nie iets wat ‘n mens wys nie. Jy ignoreer enige verwysing na die mooie liggies van die voorstede hier onder jou. En as ‘n man begin vertel van sy ongelukkige huwelik, speel jy sielkundige, al roep jy jou ma, honderde myle ver, om hulp hier in jou binneste. Baie subtiel bied ek aan om hom voor te stel aan iemand wat sy seer plekke met graagte sal wegstreel. Dit gee hom ‘n rede om aan te hou lewe en ‘n gewilligheid om my met die respek te behandel wat ek verdien.

By die woonstel val ek met verligting teen die toe deur en doen ‘n selfbelofte ten aanhore van my huismaats wat in afwagting na my staar: “Ek is klaar met karre, al is hulle hoe vinnig en mooi. Hulle bleddie bestuurders het almal agendas!”  

Carine Badenhorst