Dans asof niemand jou sien nie

Een van die eerste dinge wat ons die kleintjies leer om motories te kan ontwikkel is om hande te klap. Eers sommer net en later op die maat van musiek. Daarna leer ons hulle om die voetjies by te sit en saam met die musiek te trap en as hulle dit bemeester het, om tegelyke tyd die boudjies te swaai. Miskien leer ons hulle so net omdat hulle so oulik lyk as hulle dit doen, maar nietemin, ons leer hulle om te dans.
My ma het gehou van dans en wanneer Johann Strauss een van sy wals uitgevoer het op die rakkie bokant die kombuis se wasbak, het sy ons die een-twee-drie-ritme, passies en draaie geleer op die klein kombuisvloertjie.

Op skool het die dansery met Volkspele begin. In hoërskool was Volkspele-aande ‘n manier om kinders van die strate af te hou. Vir sommiges het dit gewerk, vir sommiges het dit deels gewerk, vir ander glad nie. Ek was gelukkig genoeg om ondervinding in al drie die kategorieë op te doen. ‘n Mens moet tog alles beproef om te weet wat is die goeie wat jy wil behou.

Later is die skoolbus  beskikbaar gestel om senior leerlinge na Magdala, ‘n plaas net buite die dorp, te neem. Onder toesig van oom J.C. en tannie Rina kon ons na hartelus vasdans en losgooi soos ons wou. Hulle seun, Mannetjies, was die voordanser en hy kon ‘n meisiekind van haar voete af gooi en draai.

Goed voorbereid, is ek na skool die Kaap in. Wat ‘n belewenis om elke moontlike Saterdagaand op ‘n ander dansvloer te kon wees. Dit was ons tyd vir dans, want ons was jonk en die lewe voor ons ‘n Karoopad.

Dit was egter nie die heupswaaiende,  nekrukkende danse in ‘n klouende katpak wat my voorliefde was nie; dit was net jeugdige malligheid. In my hart het  Johann Strauss op die klein kombuisvloertjie vasgesteek en het ek altyd gedroom en gehoop vir ‘n groot dansvloer, ‘n deftige, wye rok en ‘n lang dansmaat met ‘n greep wat jou na sy wil laat sweef sonder dat jy hoef te wonder wat jy met jou eie voete moet maak.

Dit het gekom in die gestalte van ‘n Weermag offisier in Youngsfield. Die geleentheid der geleenthede uit hierdie tydperk in my lewe was die dinee-dans in die Kasteel pas nadat my offisier-dansmaat aangestel is as persoonlike aide de camp van die Staatspresident.  Die Kasteel-geleentheid was my Cinderella aand, maar weens die aard van sy nuwe verpligtinge kon my dansprins nie die glasskoen optel voordat hy op die volgende sending moes vertrek nie. Tog was dit, anders as wat ek gereken het, nie die einde van my Johann Strauss-era nie.

‘n Jaar of vyf later, word ek genooi na ‘n SAP Weduwee- en Weesfondsdans op Stellenbosch in die Stadsaal.  Ek maak vir my ‘n rooi chiffonrok. Wyd, met drie lae chiffon en valle rondom die lae V-nek hals, wye langmoue en soom. My gesel is ‘n Napierse skoolmaat, een wat die biesies laat bewe soos wat hy kan dans. Op pad na die saal vertel ek hom die moets en moenies van so ‘n uniformdans,  want ek is maar bra skepties. 

Die dans skop af met ‘n Strauss wals en ek is in my element. Hy ook.  Ons bly sommer  op die baan staan vir die volgende dans. En die volgende. Nadat ons asem geskep het, staan hy op toe die orkes begin speel. Op ‘n stadium, terwyl ons op Last Tango in Paris oorhoeks oor die baan gly, sê Dirk: ”Kyk gou rondom ons.”  Ek verstyf toe ek al die dansers aan die kante van die vloer sien staan. Die spontane  handeklap aan die einde van ons dans laat my weereens bloos soos die rooi van my rok.

Ek en die ouman was baie lief vir dans. Ons kindertjies het op matrassies in danssale  gespeel en geslaap.  My kinders moes leer om te dans; dit was my vereiste.

Op hede dans ek op my eie. Alleen, want die ouman se gewrigte laat hom nie meer toe nie. Dans, moet ek dans.  Dit verdryf die swaarmoedigheid; dit maak iets binnekant los wat vassit; dit loof en prys die lewe en die Gewer daarvan.

Carine Badenhorst