Ek koop n berg

Dit is ‘n blinkhelder herfsdag. Die felle somerson het al sy kappie op en die effense luggie dra die inleidende note van winter met die strykstok  wat oor die seisoene-viool streel. Dis ‘n sagte dag wat ek fyntjies in my hart se bêrelaai tussen sneesdoek wil neerlê.

Amper so wyd as die Heer se genade strek die Strandveld en die Atlantiese Oseaan onder my uit. Quinn Point en L’Agulhas se vuurtoringstrale sal mekaar net-net nie met die hand gegroet kry in die nagdonker nie.  Honderd vyf en sewentig grade van alles wat enige mens nodig het. Strepiesboorde na Elim se kant toe waar die dekriet kol maak; groot lappe weigrond waar Merino en Jersey die voorbereiding doen om die mens te klee en voed; lappies ploeggrond tussen-in wat van Oktober af ougoud afsteek teen die heide wat teen die immergroen van fynbos hulle pienk lippies sal pruiltrek; koppies en laagtetjies waar bobbejaantol en proteas hul beste klere inpak vir ‘n oorsese reis.

Flaminke trek ‘n dun strepie koraal van die Voëlvlei dam af op terwyl ingevoerde sebras stofstreep kringe maak oor die pleine van Haasvlakte.

Ek volg die strepiespad van Rhenosterkop af, daar waar Boet se hoenders snags op die kombuisstoele se leunings stellasie maak, verby Heuningrug en Mierkraal tot  knap onder my op Helderfontein.  Ek ruik die dennenaalde in die bos, daar waar die oorblyfsels van die teerpot waarin die manne self hul teerpale gemaak het, verflenter lê.  

Dis egter nie die nostalgie oor my eerste huweliksjare wat ‘n tintel deur my lyf kielie nie. Dis die lug, so suiwer en onbesoedeld dat dit my dwing om my longe vol en dan nóg, tot barstens toe, vol te trek totdat dit my lighoofdig maak. Dis asof ek suinig is om dit weer uit te blaas.  

“Ek gaan vir ons ‘n berg koop”  laat ek my man weet nadat ek die skakel na Himalayan Crystal Salt Lamps  bestudeer het.  Hy gee my dáárdie kyk wat sê: “Al weer van jou wysie af!”  Ek bestel vir my ‘n seshonderd rand se berg.  Dis ‘n mooi, ruwe, amper-ovaal,  semi-deursigtige, koraalpienk stuk kristal met ‘n gloeilampie binne. Wanneer dit brand lyk dit soos iets uit ‘n feetjie se tuin. Maar die visueel estetiese waarde skiet ver tekort teen dit wat my lamp-berg aan liggaam en siel doen. Geen spuitkannetjie vol gegeurde osoon kan naastenby kers vashou by my berg nie. Die huis het ‘n varsheid wat ‘n geskilde ui in sy dop wil laat terugkruip en ‘n koolbredie in doodsangs laat vassak op die bodem van ‘n kastrol. 

My lekkerste lê is op ‘n Saterdagaand, met my kop op die bank se leuning aan die voet van my lamp-berg terwyl ek na RSG se musiek luister.  Nog nooit voor die koms van my berg en ook nie sedert die verdwyning daarvan het ek soveel rustigheid van liggaam en siel ervaar nie.   Ja, my mooi, groot, swaar,  duur berg het die tydige met die ewige verwissel.

Ongelukkig, in hierdie seeklimaat, moet my lamp-berg konstant brand, anders kondenseer die kristal van die buitekant af. My man verdra nie ligte wat onnodig brand nie, met die gevolg dat dit oorgegaan het in ‘n oormatige aan-en afskakel van my lamp. Hy sit af, ek sit aan, oor en oor, totdat die gloeilampie dit nie meer kon hou nie en my berg begin huil. My berg raak ‘n twispunt in die huis wat my dwing om hom in koerantpapier toe te draai en onder die wasbak in die kas te bêre. 

Eendag, toe ek weer die kas oopmaak  om die papier te vervang, is daar ‘n kaal kol.  Selfs die skinkbordjie waarmee ek gepoog het om ‘n bietjie van sy waardigheid en respek mee te behou, is weg.

Ek probeer vrede vind, sê vir myself dit was maar net ‘n lamp. Tydelik, verganklik, ‘n stuk sout diep uit ‘n berg.  Maar wanneer die Strandveld se melkhoutbome “ryp” raak en my man gryp na sy asmapompie en neussproei, of die fynbos met ‘n vyandigheid hul stuifmeel in my sinusse kom anker, verlang ek na ‘n berg. My mooi, koraalpienk  berg  met sy onbeskryflik verfrissende, suiwer lug.

Carine Badenhorst