Vuur

Een van my grootste vreugdes is die kontras van reën wat op die dak kletter terwyl ek voor ‘n knetterende vuur sit en staar na die vlietende vonke van sprokkelhout. Dis ‘n uitdaging vir my kunstenaarsoog om later, terwyl die dikhout groot vlamme na bo lek, te probeer onderskei tussen die verskillende skakerings wat gradieer van liggeel tot rooi in ‘n enkele vlam. Nodeloos om te sê, kon ek dit nog nooit bemeester nie. ‘n Vuur is nie iets wat hom laat vasvang nie. Hy is wild en ongetem en gee nie ‘n duit om nie; hy’s net homself.

Shamane gebruik dikwels vuur in hul helingsrituele. Hulle glo dat om bewustelik in kontak hiermee te kom, kan help dat mens jouself beter verstaan. Dit voorsien ons blykbaar ook van die nodige toerusting om veranderinge te maak, harmonie en vrede in ons lewens te bereik. Ek het hiervoor begrip, want hoe langer ek na ‘n vuur staar, hoe dieper delf ek in my eie siel. 

Vuur kan gesien word as een van die eerste ontdekkings in die ontwikkeling- en oorlewingstryd van die mens. Dit maak warm en koester; dit maak kos gaar; dit skep ‘n gesellige atmosfeer vir samesyn. Wanneer dit egter onbewaak gelaat word, kan dit ‘n buite beheer raak en ‘n spoor van verwoesting agterlaat. Nie net kan dit die natuur in ‘n vaal as-landskap omskakel nie; dit kan ook die mooiste huis, ‘n liefdevolle verhouding, goeie voornemens en opregte bedoelings tot ‘n hopie as reduseer.

Mense met vurige persoonlikhede kan enersyds energiek, dinamies, charismaties, hartstogtelik en sexy wees. Andersyds kan húlle vinnig op hul perdjie wees; jaloers, vermakerig, gefrustreerd, uitermate kompeterend en selfs gewelddadig. 

Vuur is ekspressief; dit gee nie om om gesien, gehoor en gevoel te word nie. Dit gee nie om om tot ‘n ontploffing te lei nie. In die geval van die mens, gebeur dit meer dikwels as wat dit gesond is dat ‘n vurige temperament onderdruk word. Deur die self of deur iemand anders. Ons is te ordentlik en wil nie ‘n scene maak nie. Dit dwing die vuur binnetoe, sodat dit begin knaag aan die siel om te kan aanhou brand. Die gevolg is gewoonlik depressie.

Dit is daarom belangrik dat ‘n mens jou vurige energie die geskikte omgewing gee om in uit te brand.  Sê wat jy voel, sonder om die vuur van skel en vloek vrye teuels te gee. Stap of hardloop om die blok en gee elke tree ‘n naam, woord of gedagte. Debatteer, solank as wat jy kan hou by die balans van luister en praat sonder om in die rede te val. Gaan klim agter ‘n bos in en gil. Vat ‘n feltpen en sit af see toe, skryf jou woede op klippe en gooi dit see-in. Beter nog, gaan val in die see en swem. Koel af. Gaan staan voor ‘n wit doek op jou verf-esel en skilder die wildste skildery ooit met al die elemente van jou woede of frustrasie daarin.

Terwyl jy met hierdie prosesse besig is, gun jouself die waarheid dat vuur ook ‘n bron is van ambisie, motivering en kreatiwiteit. Dit kan jou dryfveer wees, jou bron van toewyding en uithouvermoë. Solank as wat jy dit só bestuur dat jy jouself die uitbrand voor jy jou doel bereik het nie. 

Die Shamane sal tien teen een aanbeveel dat mens deur meditasie jou siel kan reinig met ‘n vuur wat al die aanpaksel afbrand en die los drade aan mekaar smelt. Jy sal jou koue hart met ‘n visuele beeld van vlamme kan warm maak. Jy kan ‘n depressiewe, apatiese siel met ‘n meditatiewe prentjie omskakel in ‘n kreatiewe, aktiewe een, deur te visualiseer hoe vonke van inspirasie jou weer terugbring na ‘n lewe van belangstelling.

Vuur is ‘n onontbeerlike gevaar. Dit vernietig ten einde die natuur te vernuwe; dit laat ‘n brandwond terwyl dit kos gaarmaak; dit suiwer deur pyn. Wanneer die rook gaan lê het en die as weggewaai of in die grond opgeneem is, kom daar altyd nuwe groei. In die mens en in die natuur.

My wintervuur moet ek nou eers wegpak, maar van die kole lê immer en smeul in my bloed. Genoeg om ‘n somervuurtjie onder ‘n sterrehemel aan die gang te kry.

Carine Badenhorst