Kielie

Elke keer wanneer die kleinkinders uitbundig skater as hulle gekielie word, wonder ek: wat is daar aan kielie wat so lekker is? Die een wat mý gaan vasdruk om in my nek of ribbes  klavier te speel gaan sekerlik met ‘n kant van my te doene kry wat liefs verborge moet bly vir die veiligheid van die nasie. Maar tog doen ek dit elke dag met die kleinkind wat onder my vlerk is. Wat is dan mooier as so ‘n kielie speletjie? Ek kyk hom vanoggend weer. Hy “Nee! Nee!” so deur die maaglaggie, trek sy skouertjies binnetoe en hardloop kwansuis vir my weg. Dis vir hom net te mooi as ek hom agternasit en vang om hom weer te kielie en wanneer ek die speletjie stop, kom koggel hy my: “Jy! Ouma!” terwyl hy al nader aan my beweeg.

Dit moet seker die kontak wees. Is dit nie maar die fisiese kontak waarmee ons klein babatjies tot hulle eerste laggies uitlok nie? Daar word beweer dat kielie die mees onskuldige manier van aggressie is; dat daar ‘n aanvaller en ‘n verdediger is. Blykbaar is dit dan ook die kleintjies se eerste lesse in die gevegskuns. So leer hulle van dominansie teenoor ondergeskiktheid. Dit leer hulle glo ook om hulle lyfies te beskerm wanneer hulle “aangeval” word. Die onskuld van kindwees.  Verdedig jouself met ‘n plesierige kraailaggie uit die maag uit.

Kielie kan egter ook saam met die ouderdom ‘n lelike ding raak. Ek lees onlangs van Nazi tronkbewaarders wat die gevangenes in die konsentrasiekampe oopgesper vasgebind  het en hulle dan met kielies gemartel het. Vreeslik, oor en oor, totdat sommiges hulle verstik het aan lag. Wat ‘n sadistiese wyse om iemand dood te maak!

Op ‘n ander verhoog kan ‘n meer hedendaagse kielie-prentjie hom afspeel. Een waar ‘n oom ‘n onskuldige kindjie kielie met die doel om die kind se guns te wen vir sy eie onwelvoeglike speletjies wat in sy kop draai.  Ek wil nie eens hieraan dink nie, maar ‘n mens kan jou nie distansieer nie. Dit is een van die lesse wat ‘n mens vandag aan jou peuter of kleuter móét oordra.  Hoe verduidelik ‘n mens aan ‘n kleintjie die grense van ‘n speletjie wat hulle dadelik aantrek tot die speler?

Op die rooi hakskeen stadium kan kielie nogal ‘n boodskap van toegeneëntheid  uitstuur.  Daardie  hy-het-aan-my-geraak opwinding wanneer ‘n prins jou aanraak, al is dit op sy eie lompe manier, kon mens laat bloos tot onder jou kleintoontjie. Dis ook dan net hier waar kielies begin seksueel raak. En snaaks genoeg, keer die aksie van kielie in betekenis terug na die kinderdae. Dominant teenoor onderdanig, maar nou met ‘n totaal ander konnotasie. 

Later, wanneer die erge passie van ‘n nuwe verhouding verwater het, kom kielies nog steeds voor, maar nou in ‘n heel ander gedaante. Wanneer daar harde woorde geval het en een van die lewensmaats kry stilstuipe, sal die ander een met ‘n kielie die ys probeer breek. Soms, as die redekawel nie so erg was nie, kan die kielie ‘n glimlag of ‘n lag ontlok.  Maar bewaar jou as jou dierbaarste twee botteltjies dikbekpille gesluk het en jy probeer die kielie-tegniek!

Die mens het ‘n ewige behoefte aan kielie. Tot in die grysheid, met ‘n kierie, as dit moet. As ‘n mens genoeg tyd in ‘n ouetehuis spandeer, kom daar maar altyd storietjies uit van een of ander “ou stuitige man”  wat die dames in die verbygaan in die nek kielie. En dis gewoonlik die tannie wat die grootste geraas maak wat dit die meeste geniet. Die mens se behoefte aan aanraking taan nooit nie; inteendeel, dit word sterker soos die jare aanstap.

Ek vra eendag vir ‘n tannie in Bredasdorp se tehuis vir bejaardes waarom sy op die ouderdom van vier en tagtig besluit het om te trou met ‘n man van ag en tagtig. “Ai, my kind” antwoord sy met die blinkogigheid van ‘n jong bruid: “ Hy kielie dan so lekker!” My volgende vraag sou wees na hulle slaapreëlings, maar ek besluit wyslik daarteen. Netnou vertel die tannie my die detail van die lekker kielies en ek dink nie ek sou daarteen opgewasse  wees nie. Nog ‘n bietjie ver buite die reikwydte van my verbeelding.

Carine Badenhorst