Fiemies

Niemand sal my ooit onthou as vol fiemies nie. Enige ander byvoeglike naamwoord in my eulogie, maar asseblief net nie daai woord nie. Ook nie “Fênsie” en “Vol airs” nie.

As kind het ek nooit die geleentheid gehad om vol fiemies te wees met dinge waarmee kinders vol fiemies is nie. Ek moes my rys, aartappels, vleis en twee groentes eet tot die bord leeg was. En my rabarberpoeding as ek soet was. Dis juis uit gril vir daardie poeding dat ek nie my bord kos tot soetens toe wou eet nie. Dit was my nie beskore om te kies wat ek wou dra nie; dit wat onder Mamma se naaimasjien uitgekom het, moes aan my bas.

Die ergste daarvan was die beige, krapperige wol langbroek waarvan die pype tot by die enkels gekom het. Tussen die ou fotos kyk ek onlangs weer indringend na daardie broek. Ek staan ewe skewekoppie met Pippie-boksterte en ‘n mooi glimlag op my ronde gesiggie. Dalk was ek maar ingenome met die blink, swart skoene – wat niks anders as gepoetste skoolskoene kon gewees het nie – wat onder die hoogwater broekspype pronk. Feit bly, ek kon deur die staalwolkrap aan my bene steeds ‘n glimlag optower.  Onthou my liewer daarvoor: dat ek in die middel van ‘n bondel skuurdraad nog steeds ‘n vreugde kon toon.  Tot vandag toe. 

Kinders kom deesdae glad te maklik weg met fiemies. Hulle wil nie sus nie en hulle gaan nie so nie. Of hulle wil dit juis só hê, wat ouers soms nie eens kan bekostig nie. 

Die gesegde dat ‘n mens vandag nie meer één ongehoorsame kind kry nie, maar baie ongehoorsame ouers, mag in sommige gevalle waar wees. Myns insiens kry mens meer bang ouers as ongehoorsames.

Kom ons kyk na die prentjie van ‘n juffrou wat voor ‘n klas van vier en sestig kinders staan, besig om hulle hul regte aan die hand van die Kinderwet voor te lees. Daardie juffrou is slimmer as die twaalf maal tafel. Sy weet tien van daardie gesiggies voor haar se omstandighede by die huis is hoegenaamd nie na wense nie. Sy praat eintlik met daardie tien kinders, maar Giel en Magriet hoor ook die storie. Hulle huislike omstandighede is heel normaal, maar om hul sin te kry teen Pa en Ma se toepassing van dissipline, kom gooi hulle die Kinderwet voor ter verdediging en as motivering vir hul eise.

Bang ouers is lafhartige ouers.  Ons  moet maar maak soos al die kantore met die Arbeidswet moet maak: plak die Kinderwet op die muur. Dan moet ons maar ‘n bietjie moeite doen en dit saam met die outjies deurgaan sodat hulle dit in die konteks van huishoudelike reëls ook verstaan: “Nee, ons gaan mekaar nie rondstamp nie, ons gaan ‘n ding uitpraat. As dinge nie verloop soos jy dit wil hê nie, gaan ons mekaar nie al gillende met die koffiebekers gooi nie, jy aanvaar  Pa en Ma se besluit omdat hulle beter weet en jou liefhet. En mannetjie, slaan nog een keer jou kamerdeur toe sodat die huis sidder en jy vat jou duvet en kussing en slaap vir die volgende twee nagte op die grond agter die bank in die sitkamer!” 

Fiemies is nie vir kinders nie. Die lewe is nie ‘n mallemeule nie en hoe gouer hulle verstaan van grense en verantwoordelikheid vir elke keuse wat hulle maak, hoe beter. 

Aan die ander kant van die spektrum, kry mens mos die ouers wat vol fiemies is, te veel kere tot nadeel van die klein bloedjies. “Jy moet net eenvoudig sorg dat jy in die eerste span speel. Jou oupa en jou pa het van Graad Drie af net in die eerste spanne gespeel.” Die arme kind wil nie eens aan daardie betrokke sport deelneem nie, want hy het tagtig persent van sy ma se onsportiwiteit in sy bloed en net ‘n skamele twintig persent van sy pa en oupa se talent.  Ter wille van die familiealbum moet hy nou toegee aan grootmensfiemies oor tradisie. Hy wil nie, maar moet nou van homself – en hulle – ‘n gek maak.

Fiemies is net oulik wanneer die heel kleintjies hulself kwansuis wil laat geld. Selfs dan moet ‘n mens maar begin om grense vas te stel.  

Carine Badenhorst