Steek in die Son

Terwyl ander mense hul oë en hande ophef om die somerson te verwelkom, kruip ek soos ‘n winterskilpad in my dop terug. Van meet af aan was ek en die son nie verenigbaar nie.

As kind moes ons my pa help om die lorrievrag hout in die stal weg te pak. Ons het toe nog ‘n swartstoof in die huis gehad. Die son het met gulsige, giftige vingers gegryp na ‘n sagte kindernek waar hy die serebellum, of wat dit ook al mag wees wat hy teiken, die vinnigste kon bykom.

Ons kon die lorrievrag hout nie in een dag baasraak nie. My gekla teen laatmiddag het op Pappa se dowe ore geval. Hy het dit maar net aangeneem as ‘n luiheid wat my bekruip. Teen die einde van dag een was ek naar en kopseer. Mamma het my ‘n Aspro gegee nadat sy vir ons die Kinderbybel gelees het.

Met die aanbreek van dag twee het ek geweet ek gaan hierdie dag nie maak nie. Toe Mamma vieruur van die werk af kom, kon haar verpleegstersoog dadelik sien ek het sonsteek. Na ‘n koel lê-bad en twee Aspro’s is ek bed toe. Sy het my die hele nag verpleeg met nat handdoeke om my kop en nog Aspro’s.

My volgende skermutseling met die son was die dag na my ouma se begrafnis. Die tannies, ooms, neefs en niggies wat van die binneland af gekom het, wou darem een daggie by die see gaan deurbring voordat hulle die terugreis aanpak. Dit was ook in Desember. Ons kinders was meer in die water as onder die sambrele. Dit het sy tol ge-eis en ek het weer sonsteek gekry. En ‘n rug vol blase so groot soos hoendereiers.

Tydens ‘n twee en ‘n half uur lange tenniswedstryd op Swellendam het ek met sonsteek-gepynigde vasberadenheid besluit ek móét hierdie een eenvoudig net wen. En ek het. Tydens die dubbelspel wedstryd was my fut egter so uit dat ek net punte weggegee het.

Toe ek in matriek was het Mamma, op aandrang van my sus wat ‘n bikini wou hê, ingestem dat ons elkeen ‘n tweestuk kon kry.

Op Struisbaai se wit strand raak ek op my rug aan die slaap. Toe ek daar wakker word, weet ek ek is in groot moeilikheid.

By die huis skrik my ma haar buite weste, gryp die koeksoda en asyn en tap badwater in. Die vuur van die hel gaan oor my verskroeide voorkant. Daarna takel sy my met die bottel Calamine Lotion.  ‘n Jeuk slaan op my uit

Dit neem tyd voordat Mamma deur my histerie kan uitvind wat fout is. Ek trippel huilend en bewend terug oor die rand van die bad. Die Calamine word afgespoel. ‘n Halwe bottel melk vind sy weg na my rooi lyf.  Met genadige, lawende gevolge.

Ek gaan skool toe met groot lappe watte onder my bra en broekie se rekke. Dokter gee een of ander salf om aan te smeer. Na twee weke kom ek een aand in die bad agter my pensvel is van sy tot sy los. ‘n Stuk sagte leer.

“Moet asseblief net nie daaraan torring net” waarsku Mamma.

“Kyk” sê ek die volgende aand, met die vier vingers van my linkerhand onder die stuk vel ingedruk wat ek in my linkersy losgewoel het. Sy kry amper ‘n oorval en tooi my in verbande.

Die volgende dag na skool verwyder Dokter die res van die vel. Die onderliggende vel is vleispienk. ‘n Aaklige gesig. Vir die volgende week loop ek met brandgaas bedekking oor my hele maag onder my skoolklere.

Dit was my kruispad. Son sien my nie weer van naderby nie. Witmens is ek geskape en so sal ek bly. Bruin sal ek nooit word nie en helderpienk wil ek nooit weer wees nie. Dit was eers in die volgende jaar, toe ek na ‘n mangeloperasie nie kon bykom uit die narkose nie, dat ek getoets is en daar vasgestel is dat ek porfirie het. Dit was die verklaring vir my uitermatige son-sensitiwiteit.

Die son is nie my speelmaat nie. Hy kan steek wie hy wil, solank dit net nie meer vir my is nie.

Carine Badenhorst