Omkykkos

Al stop iemand my die beste jaggeweer in die hand, sal ek dit nooit oor my hart kry om ‘n bok te skiet nie. My hartjie is te klein. Ek het een keer probeer visvang, maar na die tweede af-aas opgegee en met ‘n boek onder die sonsambreel gaan lê terwyl my man met eindelose geduld hang aan sy visstok vir ons nasionale omkykvis.

My heel eerste ondervinding van omkykkos, was saam met oom Dokter op die Napier/B-bos pad terwyl hy teen ligspoed ‘n bokkie doodry. Die grootmense het gepraat van boetes en tronksake en dit duidelik vir die kinders ingeprent dat geen woord hieroor gerep mog word nie.

As dorpskind het die plaaslewe na my troue vele bekoringe ingehou. Ek wou alles beproef wat die natuur gebied het. Bredie van Hottentos-kool; kussings met sewejaartjies gestop en wildspastei van tarentaalvleis.  My man het fuike gemaak en saans die “oes” huistoe gebring. Die eerste een het ek probeer pluk soos ‘n hoender. Dit was ‘n katastrofe en as ek reg onthou het die hond ‘n halfgaar tarentaal vir aandete gekry.

Die volgende keer, met vier voëls wat onder verdoeseling van die nag bewerk moes word, maak ek ‘n ander plan. Gedagtig aan hoe ‘n vag wol van ‘n skaap se lyf afgeskeer word, gee ek ‘n paar kundige snye en trek die tarentale se verejasse in een pluk van hul blou lyfies af. In hulle gaasdoekies gebind, is hulle opgehang om ryp te raak.

Op dag twee van die tarentale se hang, hou Flora en Fauna se bakkie voor die agterdeur stil. Ek skrik my koud en verbeel my ek kry ‘n tarentaal-reuk vanuit die pakkamer op die agterstoep.  Hulle soek my man oor ‘n klagte van boetebessies op een van die lande. 

Ek verduidelik vir hulle ‘n rigting in waar hulle hom nooit sal kry nie; ook nie die fuike wat vir die tarentale gestel is nie.

Vele jare later, toe ons alreeds op die dorp gaan woon het, gaan kamp ons een nag langs Voëlvlei. Dis nie sommer net vir die lekkerte van ‘n primitiewe uitspan in ‘n spider gum bos nie. Die hele doel van die uitstappie was om nette in die vlei te span om springers te vang. Dit was ‘n uiters verbode aktiwiteit.

Ek slaap die hele nag nooit. Voor die son behoorlik op is, en die inspekteurs hulle ontbyt klaar geëet het, is ons terug op die dorp.  Meer visse word weggegee as wat vir eie gebruik gerook word.  Die kinders moet kywie hou.

In dieselfde era kry my man berig dat die elwe langs Waenhuiskrans se langstrand  byt. Ons gesin sit teen skemer met die Volksie af Waenhuiskrans toe.  Ek en die kindertjies grawe ‘n holte in die sand, voer dit met ‘n nat goiingsak uit en gooi dit weer toe. Hoe later dit raak, hoe voller word die sak en hoe meer kyk ek om of daar nie ‘n Seevisserye bakkie bo op die wal staan nie.

My senuwees skaaf toe ons die terugpad aanvat. Ons vorder nie ver voordat ‘n voertuig ligte gooi van voor af nie. Dit is ‘n inspekteur. Voor die man in uniform sy mond kan oopmaak, sé my man: “Jy moet maar gaan kyk, dit loop dik daar op die langstrand. Watse aas hulle gebruik, weet ek nie, maar ek het nou wragtag nie een byt gehad nie.” 
Kort nadat ons hier by die see kom bly het, toe ‘n mens darem nog ‘n perlemoen of vyf  met ‘n permit mog uithaal, spreek ‘n paar manne af om een Sondag anderkant Kleinbaai se hek te gaan aas. So vinnig soos die perlemoene uit die water kom, maak my man die plastiese winkelsak in sy fiets se carrier vol en pedaal dit huistoe.

Toe hy hom op ‘n keer teen inspekteurs  vasry, lig hy die alibi-sak met leë bierbottels neffens die perlemoensak uit die fiets se mandjie en verduidelik ergerlik dat hy op en neer ry om bier te gaan haal. Hulle glo hom, of dalk ook nie, maar hy kom deur.

Dit was dan ook sy laaste rit. “Nee, nou’s ek klaar” sê hy met ‘n witterigheid in sy gesig. “Ek het nie meer lus vir omkyk-omkyk sit en ry nie. Die ander moet dit maar self bring.” 

Carine Badenhorst